’n Seer nek kan veroorsaak word deur ’n slegte nagrus, wanneer jy te lank voor jou rekenaar sit of as jy ’n spier verrek het. Stres en angstigheid kan ook tot spanning in jou nek lei, en, as jy aan migraine lei, kan styfheid in jou nek selfs die volgende aanval voorafgaan.

Daar is verskeie maniere waarop jy die aandoening kan verlig: Jy kan pynstillers gryp of ’n warmwatersak teen jou nek hou.

Eenvoudige oefeninge en strekoefeninge kan ook die pyn verlig en ons bespreek vyf van die beste oefeninge.

Strek jou nek terwyl jy staan

Hierdie strekoefening kan jy maklik op enige plek doen, en dit sal onmiddellike verligting bring.

  • Staan met jou voete skouerbreedte uitmekaar en plaas jou hande agter jou rug.
  • Terwyl jy jou een hand oor die pols van jou ander hand plaas, strek jy jou arms effens weg van jou liggaam af.
  • Laat sak jou oor stadig tot op jou skouer, hou die posisie vir 30 sekondes en ruil jou arms om.

Lees ook: Klop só lag-lag jou hoofpyn

Hoek-strek

  • Staan regoor een van die hoeke in die vertrek, sowat 60 cm terug, met jou voete bymekaar.
  • Lig jou voorarms na die muur toe, met jou elmboë net onderkant skouerhoogte.
  • Leun so ver moontlik vorentoe en voel die strekking aan die voorkant van jou skouers en bors. Hou die posisie vir 30 sekondes tot ’n minuut.

Sittende strekoefening

  • Sit met jou bene gekruis op die vloer of sit op ’n stoel met jou voete plat op die grond.
  • Plaas jou handpalms aan die agterkant van jou kop. Maak seker jou ruggraat is gestrek en jou heupe in die vloer ingeplant (as jy op die vloer sit).
  • Druk nou jou hande saggies af in die rigting van jou bobene, maar hou hulle agter jou kop en trek jou ken in. Hou die posisie vir 40 sekondes en tel dan jou kop stadig op.

Lees ook: Gestresde pa’s ‘dra risiko vir diabetes oor aan nasate’

Strek die bokant van jou rug

  • Sit op ’n stoel, strek jou arms voor jou uit, en laat jou handpalms aan mekaar raak.
  • Buig die boonste gedeelte van jou rug sodat dit byna lyk asof jy gaan duik. Trek jou ken in na jou bors toe en hou die posisie vir 30 sekondes.

Skoueroptrek

  • Trek jou skouers op tot by jou ore en hou die posisie vir ’n paar sekondes.
  • Bly in die posisie en rol jou skouers terug voor jy hulle ontspan en laat sak. Herhaal 10 keer.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly

Nutella, Nike, Huawei: handelsname wat jy waarskynlik al die tyd verkeerd uitspreek

Sadag-hulplyn: Dis hoe ’n vriendelike, empatiese stem aan die ander kant van ’n telefoonlyn iemand se lewe kan red

Kry só daardie salarisverhoging wat jy al lank voor wens

Kenners gee raad: Hanteer só kinders se stres en angs

Dis dalk die geheim wat sal help dat jou baba vinniger leer praat