Die behandeling, Solanezumab, is al ’n ruk lank in die toetsfase met proefnemings wat toon dit stuit die siekte as dit vroeg genoeg gebruik word.

Daar word gehoop die aankondiging sal Woensdag by die Alzheimer-vereniging se internasionale konferensie plaasvind. Dit sal die eerste keer wees dat so ’n deurbraak gemaak word.

Alzheimer-siekte is die algemeenste vorm van demensie en word gekenmerk deur geheuegapings wat erger raak namate dit vorder. Die lyers kan sukkel om nuwe inligting te onthou, herdenkings vergeet, goed verloor en hulself herhaal. Dit word veroorsaak deur proteïene wat in die brein opbou en plaak vorm. Die plaak verhoed dat senuselle behoorlik kan kommunikeer en veroorsaak later dat dit doodgaan en breinweefsel verlore gaan.

Tot nou toe het die enigste beskikbare behandeling die simptome help verlig, maar nie die onderliggende oorsaak aangepak nie. Dit is waar Solanezumab verskil, want dit werk deur aan die plaak vas te kleef en dan daarvan uit die brein ontslae te raak.

Tydens proefnemings is aanvanklik gedink die behandeling het geen uitwerking nie. Maar die wetenskaplikes het die data toe weer bestudeer en besef daar was ’n mate van verbetering by diegene wat die middel vroeg genoeg ontvang het – dit wil sê voor hul simptome ernstig geword het.

Die Amerikaanse farmaseutiese onderneming Eli Lilly vervaardig die middel, maar het nog niks gesê oor gerugte van ’n aankondiging Woensdag nie. Dit wentel vermoedelik om navorsing wat oor die afgelope twee jaar uitgevoer is en wat behels dat mense met matige Alzheimer-simptome die medisyne gebruik.

Die nuus kom terwyl vele ander groepe wetenskaplikes ’n kuur vir die siekte probeer vind. Spanne by die Universiteit van Stanford in Amerika het reeds gevind die versterking van die liggaam se immuunstelsel kan die plaak uit die weg help ruim en hulle werk aan ’n middel wat kan help om dit te laat gebeur.

© Cover Media