Ma’s wat grondboontjiebotter op hul dogter se skooltoebroodjies smeer, help dalk borssiektes beveg.

So het navorsers van die Universiteit van Washington se mediese fakulteit, die Dana-Farber-kankerinstituut en die Harvard-universiteit se mediese fakulteit onlangs in ’n studie bevind. Dié navorsing dui daarop dat meisies wat gereeld grondboontjiebotter eet, ’n laer risiko as jong volwassenes het vir niekwaadaardige borssiektes, berig Huffington Post.

Niekwaadaardige borssiektes is nie kankeragtig nie en kom voor wanneer verandering in die borsweefsel, beserings of infeksie klonte in die bors ontwikkel. Die navorsingspan het nie die verband tussen die gebruik van grondboontjiebotter en borskanker ondersoek nie.

Hoewel ander plantvette en proteïen soos sojabone, boontjies en lensies ’n soortgelyke effek kan hê, was die verband nie naastenby so sterk as dié met grondboontjiebotter nie. In die studie is ook nie bevind dat die gebruik van grondboontjiebotter borskanker kan help voorkom nie.

Die navorsing het bevind dat meisies wat twee maal per week in hul kinderjare grondboontjiebotter geëet het, se kans om niekwaadaardige borssiektes te ontwikkel 39 per sent laer is as dié wat glad nie grondboontjiebotter geëet het nie. Veral meisies wat ’n familiegeskiedenis van borskanker het, het daarby gebaat om grondboontjiebotter by hul dieet in te sluit.

Bron: Huffington Post