Stel hierdie wenke op die proef:

  • Staan elke dag uit die bed op en trek jou aan, al doen jy niks nie. Dit klink dalk eenvoudig, maar dis minstens ’n tree in die regte rigting, want jy sal nog slegter voel as jy heeldag in die bed bly.
  • Kry genoeg slaap. As jy sukkel om te slaap:

    - Gaan saans op dieselfde tyd bed toe en, belangriker nog, staan soggens op dieselfde tyd op

    - Hou jou slaapkamer donker en stil.

    - Moenie ná vyfuur smiddae oefening doen nie.

    - Vermy kafeïendrankies soos koffie, Coke en Red Bull ná vyfuur smiddae.

    - Vermy nievoorskrif-slaappille of alkohol, want dit kan jou rusteloos laat slaap en met jou depressiemedisyne inmeng.

  • Probeer ’n roetine vestig wat maklik is om te volg. Dit sal jou in voeling met die werklikheid hou en deur die dag help kom.
  • Sorg dat jy ’n gebalanseerde dieet volg. As jy nie ’n eetlus het nie, eet klein peuselhappies eerder as groot maaltye.
  • Moenie drank of dwelms gebruik of middels wat nie vir jou voorgeskryf is nie. Dit kan met jou medisyne inmeng en jou depressie vererger.
  • Probeer die goed doen wat jy onthou jy geniet het voor jy depressief geword het. Voorbeelde is lees, musiek luister, naald- of houtwerk doen, skilder of TV kyk.
  • Selfs al voel jy nie gemotiveerd nie, probeer aan godsdienstige, sosiale of ander aktiwiteite deelneem.
  • Kry gereeld oefening, al gaan stap jy net om die blok.
  • Hou ’n dagboek en skryf jou gevoelens neer. Dit help dinge in perspektief plaas.
  • Laat jou familie en vriende toe om jou te help.
  • Omring jou met positiewe invloede en vermy negatiwiteit.
  • Probeer jou gevoelens met iemand deel. Dit is gewoonlik beter as om alleen en geheimsinnig te wees.
  • Stel vir jou realistiese doelwitte en aanvaar selfs by die huis ’n redelike hoeveelheid verantwoordelikhede, soos kook, inkopies doen of stryk.
  • Breek groot take in kleineres op en stel prioriteite. Doen wat jy kan wanneer jy daartoe in staat is.
  • Stel groot lewensbesluite soos van werk verander, trek, trou of skei uit wanneer jy depressief is.
  • Lees soveel moontlik oor jou siekte. Dit kan help keer dat jy dit beheer van jou lewe gee.
  • Wees geduldig en gaaf met jouself. Onthou, depressie is nie jou skuld nie en dit is nie iets wat jy net met wilskrag kan oorkom nie. Nes met enige ander siekte moet jy behandeling vir depressie kry.
  • Probeer ’n positiewe ingesteldheid behou. Onthou, dit verg tyd om beter te voel en jou luim sal bietjie vir bietjie verbeter. Probeer op die positiewe aspekte van jou lewe konsentreer en nie by die negatiewe aspekte stilstaan nie. As jy altyd aan die negatiewe aspekte van jou lewe dink, sal jy meer depressief word.
  • Omring jou met positiewe mense en moenie noodwendig in die oomblik lewe nie. Dink aan die toekoms en die dinge wat jy graag wil bereik. Onthou, môre sal vandag vir ewig weg wees.
  • Bly besig sodat jy nie oor negatiewe of ontstellende goed tob nie. Vermy plekke en mense wat nie die beste in jou na vore bring of jou laat goed voel nie.
  • Begin ’n ondersteuningsgroep of sluit by een aan en praat met mense wat depressie oorkom het om uit te vind hoe hulle dit geklop het. As daar nie in jou gebied ’n groep is nie, vra jou dokter of ’n vriend of julle met die hulp van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (0800-567-567) ’n groep in die gebied kan begin.
  • Doen vrywilligerswerk. Help ander mense. Gaan hoor by ’n ouetehuis, hospitaal, kerk of skool of hulle hulp nodig het – al is dit net een of twee keer per week. Onthou, jy is ’n belangrike lid van jou gemeenskap.

Bron: sadag.co.za