Dis geen geheim dat rook jou gesondheid nadelig beïnvloed nie. As jy sukkel om dié gewoonte hok te slaan, is dit dalk net die regte medisyne dié.

Die aanlyn mediese gemeenskap MEDspiration het ’n grafiese video gedeel waarin hulle wys hoe ’n mens se longe glo lyk nadat jy 20 sigarette gerook het.

In die video neem ’n groep mediese studente ’n gesonde paar longe (vermoedelik menslonge, maar dit word nie gespesifiseer nie) en blaas die rook van 20 Marlboro-mentsigarette daardeur.

Daarna kom die skokkende onthulling: Een student sny die tragea oop en jy kan duidelik sien hoe die binnekant van die longe van wit na gitswart verkleur het. Dik teeraanpaksels kan ook gesien word.

Lees ook: Passiewe rook hou groot risiko’s in vir vroue

Die video is kort voor lank byna 14 miljoen keer op Facebook gekyk. Spitsvondige internetgebruikers was egter gou om tekortkominge met die eksperiment uit te wys. Eerstens rook hierdie “mens” 20 sigarette ná mekaar, sonder ’n, wel, blaaskans; nêrens word ook gewys hoe die longe enige rook uitblaas nie.

Maar die konsep van die eksperiment het op die oog af gewerk. ’n Onlangse studie deur wetenskaplikes aan die Universiteit van Bristol het bevind elke sigaret wat jy rook, verkort jou lewe met ’n volle 11 minute.

Die studie, wat in Amerika se nasionale gesondheidsinstituut se nasionale gesondheidsbiblioteek verskyn het, het verduidelik hoe hulle by hierdie syfer uitgekom het: Die lewensverwagting van manlike rokers en nierokers is vergelyk, asook die getal sigarette wat die deursnee manlike roker in sy leeftyd sal rook.

Volgens inligting van die Amerikaanse statistiekkantoor is die verskil in lewensverwagting tussen rokers en nierokers 6,5 jaar. As die deursneeroker op 17 begin rook, rook hy tot met sy dood op 71 sowat 5 772 sigarette per jaar. Dit is ’n groot totaal van 311 688.

Ses en ’n half jaar is sowat 2 374 dae, oftewel 3 418 560 minute. Neem daardie hoeveelheid minute en deel dit deur die getal sigarette wat die man rook, en jy kry die afgeronde antwoord van 11.

Dus verkort elke sigaret wat jy rook jou lewe met soveel minute.

Lees ook: Rokers let op! Hier is waarom jy vandag nog jou laaste dampie moet slaan

Wêreldwyd rook miljoene mense, al weet hulle dis skadelik. En al weet die meeste rokers veral die nikotien in sigarette is nadelig, skuil vele ander toksiese elemente tussen die tabak. Sigaretrook bevat byvoorbeeld arseen, wat tot hartversaking kan lei, en formaldehied, wat keelkanker veroorsaak.

Rook irriteer ook die longe, wat lei tot die vervaardiging van ekstra mukus. Dit veroorsaak dat die cilia – die haartjies in jou longe wat lug suiwer – nie meer funksioneer nie. In so ’n geval bou die mukus en toksiese elemente in die longe op; daarom is rokers veral geneig om aan chroniese brongitis, of rokersbors, te ly.

Op langtermyn verwoes rook ook die normale longstruktuur; die elastiese binnewande word afgebreek. Dit verminder die hoeveelheid longweefsel wat beskikbaar is om suurstof uit die lug aan die bloed te verskaf.

Hierdie siektetoestand staan bekend as emfiseem en word in die een of ander vorm by byna alle langtermynrokers gevind.

Bronne: MEDspiration, Huffington Post, Daily Mail, US National Institute of Health’s National Library of Medicine, quit.org.au, aol.com