Nou ja, skink gerus! Navorsers het bevind drie koppies koffie per dag kan ’n mens langer laat leef.

In twee proefnemings onder leiding van kenners in Brittanje en Amerika is bevind koffie verlaag ’n mens se risiko vir lewersiektes asook probleme met spysvertering en sirkulasie. Hulle vermoed hierdie voordele is te danke aan die antioksidante in koffie, nie aan die kafeïen nie. 

Navorsers aan die Universiteit van Suid-Kalifornië het 186 000 mense lukraak gekies en hulle 16 jaar lank bestudeer. Hulle het vasgestel dié wat meer as een koppie koffie per dag gehad het, se kans om te sterf was 18 persent laer as dié wat een koppie per dag gedrink het. Vergeleke met dié wat glad nie koffie gedrink het nie, was hul kans om te sterf 12 persent laer.

Intussen is 520 000 mense bo 35 jaar in ’n Europese studie van die Imperial College London en die VN se Internasionale Agentskap vir Kankernavorsing (IARC) ook gemiddeld 16 jaar lank bestudeer. Hulle het tot dieselfde gevolgtrekking gekom rakende drie koppies koffie. Maar dit was net mans wie se risiko om te sterf, 18 persent laer was. By vroue was die kans net 8 persent laer.

"Ons het bevind ’n hoër koffie-inname hou verband met ’n laer risiko vir sterfte weens enige oorsaak, en spesifiek siektes van die bloedsomloop- en die spysverteringstelsel,” sê dr. Marc Gunter, die studieleier van IARC.

"Wat van belang is,” sê Marc, “is dat hierdie resultate soortgelyk is in al 10 Europese lande, waar die gewoontes en gebruike ten opsigte van die drink van koffie verskil.”

Die navorsers het ook bevind mense wat koffie drink, se lewer is gesonder en hul glukosevlakke beter as dié wat dit nie drink nie. Die antioksidante, tesame met ander aspekte, soos kafeïen, het alles bygedra tot die gesondheidsvoordele.

"Koffie bevat hope antioksidante en fenoliese samestellings wat ’n belangrike rol speel in kankervoorkoming,” het die Amerikaanse studieleier, dr. Veronica Setiawan, bygevoeg.

Die gevolgtrekkings van albei ondersoeke is in die Amerikaanse vaktydskrif Annals of Internal Medicine gepubliseer.