Sterre, waaronder die Oscar-bekroonde aktrise Gwyneth Paltrow, die sangeres Miley Cyrus en die tenniskampioen Novak Djokovic, het na bewering almal verklaar hulle het daarby baat gevind om gluten uit te sny. Wetenskaplikes glo nou as jy dit uit jou dieet sluit, kan jy moegheid verminder en energievlakke verhoog.

"Talle deelnemers het gevind hul vlakke van moegheid was laer"

Die Going Gluten Free-studie, die grootste van sy soort in Brittanje, is deur die Rowett Institute of Nutrition and Health by die Aberdeen-universiteit begin. In die studie is bevind winderigheid en moegheid was minder omdat dit tot ’n gesonder inname van voedsame kos lei.

Die wetenskaplikes het 95 volwassenes, waaronder 64 vroue en 31 mans, met die gemiddelde ouderdom van 38 jaar, gevra om drie weke lank ’n glutenvrye dieet te volg en dan drie weke lank voort te gaan met hul gewone dieet.

Talle deelnemers het gevind hulle het minder maagkrampe gekry, hul mae het minder gegrom en hul vlakke van moegheid was laer terwyl hulle die glutenvrye dieet gevolg het.

Dr. Alexandra Johnstone, van die Rowett Institute of Nutrition and Health, het gesê: “Dit was interessant om te bevind ’n glutenvrye dieet verbeter die gevoel van moegheid omdat deelnemers gesê het hul energievlakke was heelwat hoër tydens die glutenvrye tydperk van die studie.

“Die feit dat hulle take vinniger kon aanpak, beter kon konsentreer, helderder kon dink en minder lus gevoel het om te rus, wys alles in die rigting van die opvatting dat sensitiwiteit vir gluten by sommige individue voorkom wat nie aan seliaksiekte ly nie.”

Seliaksiekte is ’n aandoening van die spysverteringskanaal, waar ’n mens ’n negatiewe reaksie teenoor gluten het, en dit kan die ingewande skade berokken. Die eet van voedsel wat gluten bevat – soos pasta, brood en koek – kan ’n reeks simptome, soos diarree, maagpyn en mislikheid by lyers aan die gang sit.

Gluten word in koring, rog, gort en enige kos wat van hierdie graansoorte gemaak word, gevind. Seliaksiekte kom na raming by een uit elke 100 mense in Brittanje voor, terwyl minder kwaai gevalle dikwels oor die hoof gesien of verkeerd gediagnoseer word.

Mense wat gewig wil afskud, kan ook baat vind by glutenvrye diëte.

“Dit was net so interessant om te bemerk geen deelnemer het gewig aangesit terwyl hulle glutenvrye kos geëet het nie. Ons deelnemers se diëte het inderwaarheid verbeter met die verhoogde inname van vesel en groentes, en natuurlik ook die verlaagde soutinname.”

© Cover Media