Een uit elke ses vroue in Suid-Afrika word gereeld deur ’n lewensmaat aangerand. In minstens 46 persent van dié gevalle mishandel die betrokke mans ook die kinders wat saam met sulke vroue leef, waarsku dr. Lerato Dikobe-Kalane, ’n direksielid van PsychMG (Psychiatry Management Group), ’n groep wat deur psigiaters bedryf word om psigiatrie in die land te bevorder.

geweld

Die 16 Dae van Aktivisme Teen Geweld Teen Vroue en Kinders vind van 25 November tot 10 Desember plaas. In die lig hiervan sê Lerato maatskaplike dienste en die samelewing in die geheel moet die toedrag van sake aktief die hoof bied en diegene beskerm wat weerloos is teen sulke mishandeling en geweld.

Die statistiek skep ’n donker prentjie. ’n Onlangse studie oor die seksuele misbruik van kinders bevind dat een uit drie jong Suid-Afrikaners teen die ouderdom van 17 die een of ander soort seksuele mishandeling ervaar het.

Die Optimus-studie deur die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Geregtigheid en Misdaadvoorkoming is die eerste navorsing wat landwyd verteenwoordigend is van die omvang en gevolge van seksuele misbruik van kinders in Suid-Afrika. Talle gevalle word ongelukkig nie aangemeld nie, sê Lerato.

Sy sê geweld hou slegte gevolge in vir vroue se fisieke, geestes-, seksuele en voortplantingsgesondheid. Dit kan hulle ook meer aan MIV blootstel.

“Gesinsgeweld kan lei tot depressie, posttraumatiese stres, eet- en slaapsteurings, emosionele nood, dwelm- en drankmisbruik en selfdoodpogings,” sê sy.

Ander gesondheidsgevolge is onder meer hoofpyn, rugpyn, buikpyn, fibromialgie, maag- en dermaandoenings, beperkte beweeglikheid en swak algemene gesondheid. Seksuele geweld, veral in die kinderjare, kan later in die lewe tot ’n toename in rook, dwelm- en alkoholmisbruik, en riskante seksuele gedrag lei.

“”

Geweld teen ’n intieme lewensmaat hou ook verband met hoër baba- en kindersterftesyfer en kindersiektes weens diarree en wanvoeding.

“Ons het bevind die onderliggende redes vir sulke geweld spruit gewoonlik uit laer opvoedingsvlakke, werkloosheid, die blootstelling van kinders aan mishandeling, die aanskou van gesinsgeweld, antisosiale persoonlikheidsafwyking, alkoholmisbruik, veelvuldige lewensmaats, beskuldigings van ontrouheid, asook houdings wat geweld en geslagsongelykheid aanvaar.”

Programme in skole om geweld in kysverhoudings te voorkom, is suksesvol, vertel die psigiater. Opleiding oor geslagsgelykheid, wat kommunikasie en verhoudingsvaardighede vir paartjies en in gemeenskappe bevorder, help ook baie.

Sy sê slagoffers kan organisasies soos People Against Woman Abuse (Powa), die Hlayisani White Door-sentrum, Saartjie Baartman-sentrum vir Vroue en Kinders, Vuk’uzenzele en Mercy House veilig nader as hulle aan enige soort geweld blootgestel is.

Daar is ook organisasies soos Sonke Gender Justice waar mense om hulp kan gaan aanklop.

Gevaartekens dat jou kinders dalk slagoffers van seksuele geweld is:

1. Regressie (die verloor van vaardighede wat die kind reeds aangeleer het)

2. Veranderings in eetpatroon

3. Senuweeagtigheid en algemene vrees

4. Fisieke simptome soos hoof- of maagpyn sonder enige mediese verklaring

5. Onttrekking van ander, verlies aan energie, en onspraaksaamheid

6. Aggressie teenoor gesinslede, speelgoed en troeteldiere

7. Obsessie met geslagsdele

8. Kennis van seksuele gedrag wat ontoepaslik is vir sy of haar ouderdom

9. Seksuele gedrag teenoor ander kinders

10. Angs wanneer die doek omgeruil word

11. Ongemak wanneer hulle loop of sit

12. Herhaalde urienweginfeksies

Meld dit aan

Hier is die stappe wat jy te wagte kan wees wanneer jy die seksuele misbruik van ’n kind moet aanmeld:

1. Meld die voorval by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan.

2. Die SAPD sal die ouers dan na die plaaslike eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe verwys.

3. ’n Beampte sal die kind na ’n kliniek neem vir ’n forensiese verslag, die toedien van antiretrovirale middels en ’n pil wat swangerskap voorkom indien nodig. Die polisie moet die kind ook vir berading verwys.

4. As daar genoeg getuienis is, sal die SAPD die saak na die nasionale vervolgingsgesag verwys en die oortreder sal in hegtenis geneem word.

5. Die skool moet dan ook stappe rakende die voorval doen.

Die Kinderhulplyn kan ouers met die bogenoemde proses bystaan en berading in jou gebied opspoor. Die nasionale hulplyn is 0800-055-555, en die webtuiste www.childline.org.za bied plaaslike telefoonnommers vir elke provinsie. Die liggaam kan ook help soek na ’n plek van veilige bewaring indien nodig.

Ekstra bronne: Lewis, S. 1999. The Adult’s Guide to Childhood Trauma; Understanding Traumatised Children in South Africa; District Mail Online; parents24.com; cjcp.org.za.