Dr. Paula Watkins, kliniese bewussyns- en gedragsielkundige en meditasiekenner, verduidelik ’n mens kan te ver in die verste “skuilhoeke” van jou bewussyn ingaan en dan diepliggende gevoelens na vore bring.

“Sommige van die werkings is lig, maar meditasie raak ál gewilder en meer mense doen dit om van hul bedrywige alledaagse lewe weg te breek. As daar egter enige sielkundige kwessie, onderdrukte emosie of ’n geskiedenis van trauma is, kan dit tydens meditasie na die oppervlak kom,” het sy aan Daily Mail Australia gesê.

Dr. Watkins het hierdie onderwerp twee jaar lank bestudeer en gevind mense wat meditasie-afsonderingsoorde besoek is meer geneig om negatiewe ervarings te hê. Sy beskryf hierdie wegbreekplekke as ’n ‘sielkundige boot camp’ en diegene wat daar bly, het onderdrukte emosies wat na die oppervlak kan kom.

“Wegbreekplekke vir intensiewe meditasie bestaan nie net uit suiwer genot nie. Daar kan ’n klomp goed na die oppervlak kom terwyl jy tien uur per dag tien dae lank mediteer. Dit kan onderdrukte emosies en herinnerings na vore bring.

“Selfs gedurende ons daaglikse meditasietye is daar gedurig veranderings in die innerlike landskap van wat in ons liggaam en gedagtes aangaan,” sê sy.

Sy spoor mense aan wat simptome soos ’n gevoel van irritasie en aggressiwiteit ondervind om meditasie te vermy tensy hulle professionele hulp kry. Dieselfde geld mense wat aan psigose of skisofrenie ly.

Dr. Watkins waarsku dat ‘geestesgebeure’ (hallusinasies en waanbeelde) erger kan word wanneer mense mediteer. Sy sê dit is nie veilig vir hierdie mense om binne-in hulself te kyk nie, en dat meditasie nie terapie moet vervang nie.

“Ek voel baie sterk daaroor dat mense wat vir die eerste keer mediteer veilig in ’n verskeidenheid van tegnieke gesteun behoort te word tot hulle ’n tegniek vind wat vir hulle werk. Navorsing het nog nie bepaal of een styl veiliger is as ’n ander nie,” sê sy.

Dit behoort nie almal af te skrik nie, en sy merk op dat die meeste mense kan ontspan en kalm kan voel ná meditasie. Sy wil net hê mense moet bewus wees van die negatiewe newe-effekte daarvan. Dit behoort nie die mense af te skrik wat nie probleme het met hul geestesgesondheid nie.

© Cover Media