Akademici by die John Molson-sakeskool in Kanada het vergelyk hoe die verskillende maniere van pendel – fietsry, per motor en openbare vervoer – jou spanningsvlakke en luim by die werk beïnvloed.

Altesaam 123 werknemers by ’n maatskappy in Montreal is betrek by die studie. Die navorsers wou bepaal hoe gespanne en in watter bui hulle was in die uur nadat hulle by die werk aangekom het. Hulle het ontdek die fietsryers was die minste gestres.

“Die fietsryers het in die eerste 45 minute by die werk beduidend laer stresvlakke getoon as dié wat per motor gereis het,” het die medewerker Stephanie Brutus gesê.

Die manier van reis het egter nie mense se bui beïnvloed nie.

Stephanie het dis goed om te weet hoe gespanne werknemers voel wanneer hulle by die werk aankom, want onlangse navorsing het getoon vroegoggendstres en -luim kan ’n sterk aanduiding wees van hoe mense later in die dag gaan optree.

“Hulle kan die manier bepaal waarop daaropvolgende gebeurtenisse die res van die dag waargeneem en geïnterpreteer gaan word en wat die reaksies daarop gaan wees.” 

Fietse word as ’n relatief goedkoop vervoermiddel beskou en bied goeie oefening. Volgens die navorsing kan die beleidmakers dié inligting gebruik om mense se gesondheid en omgewing te bevorder.

“Daar is groeiende kommer oor verkeersopeenhoping en besoedeling; daarom probeer regerings ál meer alternatiewe, niemeganiese maniere van reis, soos stap en fietsry, bevorder. Ek kan net hoop nog studies hieroor sal volg,” het Stephanie bygevoeg.

Die studie is in die International Journal of Workplace Health Management gepubliseer.