Die eksperiment, wat aan die Universiteit van Minnesota uitgevoer is, het behels dat 120 gesinne met kinders tussen ses en 12 jaar agt dae lank van hul maaltye moes rekord hou.

Daar is vir die gesinslede gesê hulle hoef nie elke maaltyd saam te eet of elke aand vir ete bymekaar te kom nie, maar hulle moet in dié tyd minstens drie maaltye saam eet. Die helfte van die deelnemende kinders het ’n normale gewig gehad, terwyl die ander helfte oorgewig of vetsugtig was.

Jerica Berge, wat die navorsing gelei het, en haar span het toe die bevindings ontleed en in twee groepe verdeel. Die eerste het bestaan uit mense wat beïnvloed is deur die atmosfeer tydens ete, soos enige vyandigheid wat in die gesin ervaar is. Die tweede het gefokus op die kos self, soos gewigsprobleme en hoe streng die kinders se porsies beheer is.

Daar is bevind die groter kinders is aan tafel aan meer negatiewe emosionele interaksies blootgestel. Dit het ingesluit swak kommunikasie en beherende ouers wat hulle onder druk geplaas het om te eet, soos deur daarop te wys dat nie alle kinders in die wêreld genoeg kos het nie.

Die kinders met ’n normale gewig het ’n groter kans gehad om maaltye te eet in ’n warmer, opbeurende atmosfeer met positiewe opmerkings om goeie gesondheid aan te moedig. En as die volwassenes in die gesin in etenstyd oor kos gepraat of vir die kinders gepreek het, het die jongeres ’n groter kans gehad om gewig aan te sit.

“Ek was verbaas oor hoe konsekwent die patrone was,” sê Jerica. “Daar was baie duidelike patrone in hoeveel positiewe of negatiewe interaksies verband hou met oorgewig en nie oorgewig.”

Die ondersoek, wat in die joernaal Pediatrics gepubliseer is, toon ook die swaarder kinders het gewoonlik korter maaltye genuttig en die kans was ook groter dat kinders met ’n normale gewig ’n manlike teenwoordigheid in hul lewens het.

“Dit was dalk ’n geval dat om een mens meer aan tafel te hê vir skarebeheer en ’n ander mens om die maaltyd te help maak en ’n model te wees vir kinders om na te boots,” het Jerica bygevoeg.

“Daar is duidelike bewyse dat gesinsmaaltye belangrik is om kinders teen oorgewig te beskerm; daarom is dit belangrik om met gesinne hieroor te praat. Dit is belangrik om daarop te fokus om die maaltydomgewing positiewer te maak.”

© Cover Media