’n Onlangse studie in Denemarke het tot die slotsom gekom dat 14 drankies vir mans en nege drankies vir vroue in ’n tydperk van sewe dae hul risiko vir dié siekte met tot 32% verlaag het, vergeleke met mense wat minder as een alkoholiese drankie per dag ingeneem het.

Dit geld egter nie vodka en jenewer nie, want die deskundiges het bevind hierdie spiritualieë verhoog die risiko vir diabetes met 83%.

Die span van die Suid-Deense Universiteit het data van 70 551 mans en vroue bestudeer. Die deelnemers is vyf jaar lank gemonitor en uitgevra oor hul alkoholinname. 

Aan die einde van die studietydperk het 859 mans en 887 vroue albei tipes diabetes ontwikkel.

Die wetenskaplikes het hieruit afgelei dat matige alkoholinname drie tot vier keer per week gelei het tot ’n verlaagde risiko van 27% by mans en 32% by vroue om die siekte, wat veroorsaak dat ’n mens se bloedsuikervlakke te hoog raak, te ontwikkel.

“Hierdie studie laat dit blyk dat klein hoeveelhede en gereelde drankinname beskerming bied teen tipe 2-diabetes,” was die opinie van prof. Janne Tolstrup, die hoofskrywer."

“Wat diabetes betref, is, net soos met soortgelyke bevindings uit studies oor alkohol en hartsiekte, gevind dat dit beter is om die alkoholinname oor ’n paar dae te versprei, eerder as om die hele weeklikse hoeveelheid op een slag weg te slaan.” 

Daar is bevind dat wyn ’n besonder groot rol speel daarin om die risiko van diabetes te verlaag, aangesien dit ’n chemiese samestelling bekend as polifenole bevat, wat besonder baie in rooiwyn voorkom. Polifenole is belangrik vir die beheer van bloedsuiker.

Die resultate is in die tydskrif Diabetologia  gepubliseer, maar die span waarsku dat oormatige drinkery inderwaarheid tipe 2-diabetes kan veroorsaak, aangesien dit tot gewigstoename lei, en dít word aan diabetes gekoppel.

Ander deskundiges, wat nie deel gehad het aan hierdie studie nie, het mense egter daaraan herinner om verantwoordelik te drink, en Tolstrup het hiermee saamgestem.

“Alkohol word met 50 verskillende soorte siektes geassosieer, so ons sê nie ‘gaan gerus voort om alkohol te drink’ nie,” het ’n gesondheidsdeskundige bygevoeg.