September bring altyd nuwe uitdagings met betrekking tot goeie leefstylkeuses. Die idee om daardie ekstra wintervet te verloor, op ’n lente inkopie-uitstappie te gaan en reg te maak vir ’n welverdiende somervakansie aan die einde van die jaar, klink baie lekker, maar dit kan ook op jou gemoed kom lê. Sonder dat jy besef, kan dit eintlik druk op jou lyf plaas, veral op jou belangrikste orgaan, die hart.

En Wanneer jy besluit watter eetplan om te kies, maak seker jy sluit voedingstowwe soos vitamien A, C, E, goeie vette en vesel in – dis alles goed vir jou hart.

Hier is ses goeie kosse wat jy gerus deel kan maak van jou lenteplan:

  • Sardientjies

Dié vis is propvol proteïene, kalsium, B-vitamiene en goeie vette om bloedklonte te verhoed en cholesterol te verlaag. Ander opsies is salm, tuna en makriel. Die Hart-en-beroerte-stigting van Suid-Afrika beveel aan dat ’n mens weekliks minstens 2 porsies (100 g elk) van hierdie vis eet.

  • Avokado

Nog ’n goeie bron van gesonde vette om cholesterol vlakke laag te hou. Wees net versigtig met jou porsiegrootte. Een porsie is ’n kwart van ’n klein avokado en het dieselfde hoeveelheid energie (kilojoules) as ’n teelepel margarien.

Wenk: Maak jou slaaie en toebroodjies groen met ’n lekker avokado. ’n Ander opsie is om avokado met laevet-melk te meng vir ’n gesonde melkskommel.

  • Okkerneute

Nie net gee okkerneute vesel en vitamien A, C en E nie; hulle bevat ook volop gesonde vette wat cholesterol verlaag en bloedklonte verhoed. Jy hoef ook nie net okkerneute te eet nie: amandels, grondbone, pekanneute, kasjoeneute en makadamias is net so gesond. Jy kan dit in enige vorm geniet – as ’n peuselhappie, in ’n melkskommel, in slaaie of in kos. Hou maar in gedagte dat dit hoë energievlakke (kilojoules) het; dus moet jy dit nie oordryf as jy wil gewig verloor nie. Een porsie is gelyk aan ’n klein handjie vol.

Wenk: Bly weg van neute wat met sout bedek is. Kies liewer rou, ongebakte neute.

  • Olyfolie

Olyfolie is bekend vir sy cholesterol-verlagende eienskappe en help ook arteriosklerose verminder, met ander woorde die proses waarin arteries en bloedvate vernou en verhard. Ander plaasvervangers vir olyfolie, is kanola-olie, avokado en grondboontjie-olie.

Wenk: Wanneer jy olie in kos gebruik, vervang botter of ghee met produkte wat die Hartstigting se stempel van goedkeuring dra - daar is minder ongesonde vette in.

  • Bone

Dis gesond en vol proteïen, oplosbare vesel en vitamiene. Bone is ’n gesonde opsie as ’n ete op sy eie of in sop en bredies. Ander peulgroentes wat ook gereeld gebruik kan word, is ertjies.

Wenk: Koop geblikte bone; dis maklik en goedkoper.

  • Aarbeie

Danksy die vesel- en vitamien- (A, C en E) inhoud, is aarbeie en ander bessies ’n regte keuse vir jou hart. ’n Daaglikse kombinasie met ander vrugte, veral sitrus en geel of oranje vrugte, saam met groente, sal jou die voedingstowwe gee wat jou liggaam nodig het.

Wenk: Maak seker jy neem elke dag minstens vyf porsies groente en vrugte in. ’n Lekker manier om dit te eet, is om die vrugte met jogurt te kombineer vir ’n ontbytskommel.

Bron: The Heart and Stroke Foundation South Africa

Credit ISTOCKPHOTO