’n Dieet wat volop blaargroentes, neute en soja insluit, kan die geheim wees om hartsiektes te klop.

Wetenskaplikes het die Portfolio Eating Plan (PEP) ontwikkel, en dit word verwelkom as die beste eetplan nog wat daarop gemik is om die risiko vir hartsiekte te verlaag.

Die PEP bevat plantsterole of -stanole, neute (wat baie ryk is aan mono-onversadigde vette), plantvesel en sojaproteïen. Kanadese navorsers voer aan as jy dié plan volg en gereeld oefen, kan jy jou bloeddruk met gemiddeld twee persent verlaag – vergeleke met die DASH-dieet, waar jy vrugte, groente, vis, pluimvee en neute eet en minder suiwelprodukte en verwerkte vleis inneem.

Die bevindings is bekendgemaak ná ’n sekondêre analise van data wat in 2011 versamel is vir ’n studie oor die uitwerking van die PEP op cholesterol.

“Dié baie belangrike sekondêre bevinding het dit ’n toevoeging gemaak tot die literatuur oor die verband tussen dieet en gesondheid,” het dr. David Jenkins, ’n kenner in voedingswetenskappe en medisyne by die St. Michael-Hospitaal en die Universiteit van Toronto, gesê. “Ons kan nou sê die PEP is ideaal vir die verlaging van die algehele risiko vir kardiovaskulêre siektes.”

Met die navorsing is bevind dit is voordelig vir ’n mens se gesondheid om min versadigde vette en sout, baie vesel en hope vars vrugte, groente, hawer, bone en peulgroente te eet.

Daar word aanbeveel dat jy elke dag 30 g neute, 20 g oplosbare vesel, 50 g soja en 2 g sterole of stanole (wat natuurlik in plantaardige voedselsoorte gevind word) inkry.

In die studie, wat die tydskrif Nutrition, Metabolism and Cardiovascular Disease gepubliseer is, val die klem op dieet- en leefstylveranderings wat die risikofaktore van hartsiektes verlaag.

“Daar is bevind om jou dieet aan te pas is net so doeltreffend soos die begindosis van die gemiddelde enkelbloeddrukmedikasie,” het David bygevoeg. “Navorsing het getoon plantgebaseerde diëte wat kossoorte insluit wat meer proteïen, olie en vesel bevat, verlaag die risiko vir kardiovaskulêre siektes en beroertes.”

© Cover Media