Navorsers by die European Society of Cardiology het ontdek geraas kan ’n invloed hê op ’n mens se risiko vir hartvatsiektes: van die onderbreking van nagtelike slaappatrone en die verhoging van stresvlakke tot ’n verhoging in bloeddruk en hartklop. Selfs al raak jy byvoorbeeld gewoond aan die geluid van motoralarms wat jou wakker maak, hamerbore op pad werk toe of die gezoem van ’n kantoorgebou, sê die navorsers dit hou steeds ’n gevaar in vir jou, want die lawaai stel stilletjies eise aan jou hart. “Geraas behoort oorweeg te word as ’n nuwe risikofaktor by hartvatsiektes,” het Thomas Muenzel, ’n professor in interne medisyne by die mediese sentrum van die Johannes Gutenberg-universiteit in Mainz, Duitsland, gesê.

Mense wat naby strate, spoorweë en lughawens woon, het die hoogste risiko

Hy het benadruk mense “wat naby strate, spoorweë en lughawens woon”, het die hoogste risiko.

Dr. Andrew Freeman, direkteur van kliniese kardiologie by die National Jewish Sleep Centre in Denver, bied ’n paar eenvoudige oplossings: “Die beoefening van stilte vorm ’n belangrike deel van dit wat ons kan oorweeg om elke dag te doen.”

Volgens die deskundiges is meditasie en joga ’n goeie manier om al die oortollige geraas uit te skakel en die liggaam die kans te gee om van stres ontslae te raak. Andrew voeg by: “Oortollige klank is nie net skadelik vir die welstand van die ore nie, dit skep ook ’n aansienlike hoeveelheid stres, wat op sy beurt kardiovaskulêre toestand kan vererger.”

Dr. Robert Beiny, een van die topdeskundiges op die gebied van gehoor, het intussen gesê: “Die jongste navorsing wat geraas in verband bring met ’n verhoogde risiko vir hartaanvalle en beroertes is nie juis ’n verrassing nie. Geraas word ’n geruime tyd lank reeds beskou as ’n risiko vir gehoorgesondheid; mense wat aan geraas blootgestel word, het gemeld hulle ervaar gehoorverlies en suising in die ore. Hierdie jongste studies is dus sinvol wat betref die verband tussen gehoorverlies en hierdie siektes.”

Vir diegene wat smag na ’n bietjie stilte en vrede, het hy die volgende raad: “Vat, wanneer moontlik, ’n blaaskans weg van die lawaai af, gaan na ’n stil plek en laat jou ore rus en herstel.”

© Cover Media