Van die skril toon van jou wekker tot die verkeer en gedurige gelui van telefone op kantoor. Die vraag is: hoe gereeld ervaar jy werklik stilte en vrede? Die aanhoudende geraas lei nie net tot hoofpyn en toets jou geduld nie, kenners beweer nou geraas kan ook die rede wees hoekom mense gewig aansit. Maar hoe kan desibels jou dieet raak?
'Geraas is ’n stressor wat jou stimuleringsvlakke kan verhoog.'

“Geraas is ’n stressor wat jou stimuleringsvlakke kan verhoog en die senuweestelsel en hormoonvlakke beïnvloed,” sê Stephen Stansfeld, professor in psigiatrie aan die Koningin Mary-universiteit in Londen, berig MailOnline.

“Ons is geprogrammeer om op geraas te reageer, veral as dit ’n bedreiging inhou, en wanneer ons onder druk verkeer, skei die liggaam vlug-of-veg-hormone af – wat kortisol, adrenalien en noradrenalien insluit – wat veronderstel is om ’n mens uit die gevaar te kry. Maar dié hormone verhoog ook ons hartklop, bloeddruk en moedig die liggaam aan om noodvetvoorraad te kry.”

Navorsers aan die Karolinska-instituut in Swede se onlangse navorsing steun dit. Hulle het bevind mense wat naby ’n besige pad woon, is geneig om meer gewig aan te sit as dié in stil gebiede, terwyl mense wat onder vlugweë en naby spoorweë woon, ook daardeur geraak word.

Hoe kan ’n mens dan verhoed dat geraas jou slaap versteur, spanning veroorsaak en selfs jou middellyn laat uitsit? Een van die maklikste maniere is om saans oorpluisies te dra, veral as jou huis in ’n raserige gebied is – verkeer, naguil-woonstelmaats en raserige bure kan alles ’n rol speel.

Probeer ook om ’n tyd in die dag in te ruim waar jy net ontspan. Moenie in die versoeking kom om dit ook met geluide te vul soos om die radio of televisie aan te skakel nie, want dit kan net bydra tot die probleem.

As jou huis nooit stil is nie, gaan na ’n plek wat wel is. Selfs jou plaaslike biblioteek kan werk. Gaan soontoe met ’n lekker boek of selfs net om te sit en diep asem te haal.

© Cover Media