Dit is welbekend dat slaap jou gemoed verlig, ’n moeë vel voorkom en jou meer op en wakker laat voel. Kundiges het boonop nou uitgevind dat as jy jou aanbevole agt ure per nag slaap jou geheue ’n hupstoot sal kry.

Navorsers van die Brigham and Women’s Hospitaal in Boston het 'n studiegroep in 'n beheerde omgewing by die hospitaal se Sentrum vir Kliniese Navorsing ondersoek.

Deelnemers is gevra om 20 foto’s en name van mense uit 'n versameling van meer as 600 foto’s te memoriseer. Ná 12 ure is dieselfde prente aan hulle gewys, met óf 'n korrekte óf 'n verkeerde naam daarby.

Hulle is toe gevra om die naam te kies wat hulle dink die regte een is. Deelnemers moes ook aandui hoe seker hulle oor hul antwoord voel. Dié geheuetoets is twee keer uitgevoer.

Baie verskillende soorte geheue word deur slaap verbeter

Resultate het getoon dat indien die groep vir tot agt ure geslaap het, die hoeveelheid regte antwoorde met 12% gestyg het.

"Ons weet dat baie verskillende soorte geheue word deur slaap verbeter,” het die navorser, dr Jeanne Duffy, opgemerk. “Terwyl 'n aantal van die studies gekyk het watter invloed kort slaapsessies uitoefen op ons vermoë om nuwe name en gesigte te leer onthou, het geen vorige studie nog die uitwerking bestudeer van 'n hele nag se slaap tussen die leer- en toetsingstyd nie.

"Ons het gevind dat indien die deelnemers die kans gehad het om 'n hele nag te slaap, hul vermoë om die naam korrek met die gesig te verbind – en hul sekerheid oor hul antwoorde – opmerklik verbeter het."

Die bevindings is in die tydskrif Neurobiology of Learning Memory gepubliseer en dr Duffy hoop dat as kwessies rakende slaap meer aangepak word, sal mense van alle ouderdomme in staat sal wees om nuwe dinge aan te leer.

© Cover Media