NIEMAND kan stry nie, dit voel fantasties wanneer die ou op wie jy stilletjies verlief is vir jou haai sê of as jy A+ in ’n toets kry. Maar al maak die dinge jou dolgelukkig, verdwyn daardie lekker gevoel voor jy jou oë kan uitvee!

Dis omdat die geheim tot ware en blywende geluk is “om getrou aan jou ware aard” te wees. So sê Robert Holden, skrywer van Be Happy (R153,95 Kalahari.com). “As jy dink geluk is iets BUITEKANT jouself, sal jy daarna soek of dit beskou as ’n beloning wat jy moet verdien. Maar as jy weet dis BINNE jou, sal jy meer geluk rondom jou begin ervaar.”

Hier verban Robert ’n paar algemente mites oor geluk.

MITE 1: Ek moet perfek wees om gelukkig te wees

Eintlik is niemand perfek nie – maar daar is wel gelukkige mense. “Sodra jy leer om jouself vir foute te vergewe (selfs kleintjies soos om te veel selfverbruiner te gebruik), sal jy die selfveroordeling stopsit en jy kan uiteindelik gelukkig met jou ware self wees,” sê Robert.

MITE 2: Jy moet jou geluk verdien

Het jy tyd om te mors? Dan kan jy jou lewe lank geluk najaag. Soek jy dit dadelik? KIES dan geluk. “Probeer jou ’n plek voorstel waar jy reeds besluit het hoe goed vandag gaan afloop, hoe fantasties die jaar gaan wees en hoe lekker jou lewe gaan wees. Begin dadelik met ’n positiewe ingesteldheid om toe te laat dat vandag baie lekkerder gaan wees as wat jy jou voorgestel het,” sê hy.

MITE 3: Ek moet meer hê om gelukkig te wees

Jy is vies omdat jou ouers nie vir jou ’n iPhone 4S wil koop nie of dink jou lewe sou soveel beter gewees het as jy daardie ontwerpershandsak gehad het. Maar selfs al het jy albei gekry, sou daar môre weer iets anders op jou “moet-hê” lysie wees – raak dus ontslae van die lysie en begin om dankbaar en waarderend te wees vir wat jy het anders gaan jy hou lewe lank inkopies doen en nooit werklik tevrede wees nie. “Baie geluk word misgekyk omdat dit niks gekos het nie,” sê Robert.

MITE 4: Ek moet ware liefde vind om gelukkig te wees

Ons kyk na Bella en Edward of Selena en Bieber en dink: “As ek net ’n kêrel/meisie gehad het!” Maar voor jy dolverlief op iemand anders kan raak, is daar een belangrike hindernis wat jy moet oorkom: Jy moet JOUSELF liefhê. “Die punt is dat jy nie enigeen sal toelaat om jou lief te hê as jy nie bereid is om jouself lief te hê nie.” Jy het dit al vantevore gehoor, maar mense sal jou behandel soos jy jouself behandel.

MITE 5: Ek moet maer wees om gelukkig te wees

Verkeerd! Geluk hang nie af van jou kleregrootte of liggaamstipe nie – dis BINNE jou en deel van onvoorwaardelike selfaanvaarding. Hoe meer jy oor jou gewig tob of jouself afkraak omdat jy nie maer genoeg is nie, hoe meer sal geluk jou ontwyk. “Sonder selfaanvaarding sal jy die hoeveelheid geluk, liefde en sukses wat jy kan ervaar beperk en blokkeer,” sê Robert. “Die eerste stap om jou beste eienskappe uit te bring, is om bereid te wees om jouself te aanvaar.”

Die #1 sleutel tot geluk

Leef in die hede! Hoe meer jy bewus is van elke oomblik, hoe meer geluk sal jy vind. Geluk is waar jy is.