Baie van die samestellings is skadeloos op sigself, maar die onlangse bevindings dui daarop dat hulle gevaarlik kan wees sodra hulle met ander samestellings gekombineer word.

Altesaam 174 wetenskaplikes uit 28 lande het verskillende studies bekyk wat die skakel tussen ‘gewone en onvermybare’ chemikalieë nagevors het, en hoe dit die ontwikkeling van kanker raak.

Vyftig chemikalieë is in hierdie ondersoek buite rekening gelaat omdat hulle in klein dosisse ’n geringe uitwerking op die liggaam het, maar wanneer hulle gekombineer word, kan daar groot veranderinge intree wat aanleiding tot siekte kan gee.

Dié wat skadelik kan wees, sluit in akrielamied wat in gebraaide aartappels voorkom, trikosaan wat dikwels by antibakteriese handewasmiddels gevoeg word en titaan-dioksied, ’n bestanddeel van sonbeskermingsmiddels.

Koper, lood en kwik het ook gevaarligte laat flikker.

“Huidige benaderings tot die bestudering van blootstelling aan chemikalieë en die ontstaan van kanker is nie bedoel om die uitwerking van lae konsentrasies of in samegestelde mengsels te bekyk nie,” het die verslag gelui.

Studies voorspel tans dat een uit elke vyf kankersoorte veroorsaak kan word deur hierdie chemikalieë, maar nog navorsing moet gedoen word, aangesien mense daagliks aan derduisende chemikalieë blootgestel word.

Dr. Hemad Yasaei, ’n bioloog aan die Brunel-universiteit in Londen, glo dat hierdie navorsing belangrik is, aangesien dit mense attent maak op chemikalieë wat hulle nie as onveilig beskou nie.

“Dis uiters belangrik dat ons ons meer toespits op hulpmiddels om die uitwerking na te vors van lae-dosis-blootstelling aan samestellings van chemikalieë in die kos wat ons eet, die lug wat ons inasem en die water wat ons drink,” was sy raad.

Maar Hemad wil nie hê mense moet hulle bekommer oor hierdie bevindings, wat in die Carcinogenesis-tydskrif van die Oxford University Press gepubliseer is, nie. Hy het bygevoeg dat daar nie gekyk is na chemikalieë wat reeds met kanker in verband gebring word nie, maar net gekonsentreer is op dié wat veranderings in ’n sel kan veroorsaak.

Atrasien, wat in die VSA gebruik word in onkruiddoders vir mielielande, word byvoorbeeld as veilig beskou, maar dit kan met nikkel in aanraking kom en dis nog onbekend watter uitwerking dié kombinasie op die menslike liggaam kan hê.

© Cover Media