Ons hou nie almal daarvan om die elmboog te lig nie, maar ’n hele klompie van ons tel die dae af tot die naweek of klou vas aan die gedagte “iewers in die wêreld is dit reeds vyfuur”. Met Kersfees weer voor die deur, sal die partytjieseisoen binnekort in vole gang wees. Maar as ons daardie glas wyn of bottel bier vir ’n maand kan uitlos, sal dit die wêreld se verskil aan ons gesondheid maak.

Dokters by die Royal Free-hospitaal in Londen het gekyk na 102 taamlik gesonde mans en vroue in hul 40’s wat deelneem aan die Droë Januarie-veldtog, waar drinkers die hele maand lank nie ’n druppel drank oor hul lippe neem nie.

Die mense wat deelgeneem het, drink gewoonlik meer as die regering se riglyne; die vroue het 29 eenhede per week afgesluk en die mans 31, onderskeidelik 10 en 15 meer as die aanbevole perk. Nadat hulle drank net ’n maand die rug toegekeer het, het die resultate ’n afname van 12,5 persent in styfheid van die lewer (’n aanduiding van die siekte) en ’n afname van 28 persent in insulienweertandigheid getoon.

“Die uitslae was verstommend,” het prof. Kevin Moore gesê. “As jy ’n soort medisyne gehad wat dit kon doen, sou dit ’n reusemark geskep het.

“Daar was ’n afname van 40 persent in lewervet, hulle het ongeveer 3 kg gewig afgeskud en hul cholesterolvlakke het verbeter.”

Deelnemers se bloeddruk was ook laer en baie van hulle het terugvoer gegee dat hul slaap en konsentrasievermoë ook aansienlik verbeter het.

Die resultate was so noemenswaardig dat die Britse gesondheidsdepartement hulle bestudeer het en hulle berei nou nuwe riglyne voor.

Gautam Mehta, ’n lewerspesialis, se kommentaar was: “Ek is opgewonde. Daar is ’n klompie bevindings wat taamlik nuut sal wees. Dit is ’n belangrike studie wat die voordele van ’n maand se onthouding aantoon. Wat ons egter nie kan sê nie, is hoe lank hierdie voordele gaan aanhou en hoe blywend dit is.”

© Cover Media