Die oranjekleurige groentesoort bied soveel meer as die gewone variëteite, en hoewel aartappels gewoonlik as ’n ongesonde toevoeging tot jou dieet beskou word as jy te veel daaraan weglê, het navorsing bewys patat kan help met gewigsverlies deur hongerpyne af te weer.

Dit bevat wel koolhidrate – sowat 33g per koppie volgens Pop Sugar – maar patat bevat ook ’n verbinding wat adiponektienvlakke (die hormoon wat bloedsuikervlakke reguleer) laat styg. Deur te help om bloedsuikervlakke stabiel te hou, verminder patat die kanse dat ’n suikerlus jou ná ’n maaltyd sal beetpak wanneer die vlakke daal. Jy sal dus nie in die versoeking wees om ’n sjokoladestafie of bakkie roomys te eet nie. Patat het ’n betreklik lae glukemiese indeks (GI) en daar is in studies bevind dat dié soort kosse langer in jou spysverteringskanaal agterbly en dus help om jou eetlus te beheer.

Jy moet patat kook of stoom in plaas van rooster om sy lae glukemiese eienskappe behou. Nadat jy dit voorberei het, kan jy gekapte blokkies in ’n groentedis of kapokaartappel voeg as dit sag is en dit as ’n bygereg by vleis bedien.

Patat se hoëveselinhoud help ook om die hongerpyne te beheer. Veselryke bestanddele laat jou langer versadig voel – een mediumgrootte patat bevat vier gram van dié voedingstof. En behalwe vir die potensiële gewigsverlies kan die vitamien A in patat jou vel, bene en ooggesondheid verbeter.

As jy slaptjips, kapokaartappel of gekookte aartappel verkies, kan jy dit vervang met patat. Of jy kan kreatief raak en dit in sop met wortel en gemmer gebruik. As jy ’n vinnige ete aanmekaar wil slaan, kan jy soetpatat en spinasie-quesadillas maak. Maak die aartappels in die mikrogolfoond gaar om tyd te spaar, meng met die ander bestanddele, skep dit in die tortilla en rooster vir sowat drie minute aan beide kante. Heerlik!

© Cover Media