Volgens ’n ondersoek aan die Tufts-universiteit in Massachusetts kan die regte dieetplan die deurslag gee wanneer jy jou drang na burgers en pizzas ’n nekslag wil toedien.

Die algemene opvatting is dat wanneer verslawing aan vetterige kosse eers inslag gevind het, dit baie moeilik of selfs onmoontlik is om te stuit – en dat dit beteken oorgewig mense sal waarskynlik altyd vasgevang wees in ’n bose kringloop van verkeerde kosse eet. Maar dit is nie natuurlik om gemorskos te verkies nie.

“Ons hou nie aan die begin van ons lewe van aartappelskyfies en verpes byvoorbeeld volgraanpasta nie,” sê die skrywer Susan Roberts, ’n professor aan die Friedman-skool vir voedingswetenskap en -beleid aan die Tufts-universiteit en ’n medeprofessor in psigiatrie aan die universiteit se mediese skool.

“Die kondisionering vind mettertyd plaas in reaksie daarop om – herhaaldelik! – te eet wat daar buite in die toksiese kos-omgewing is.”

Die breinskanderingsondersoek, wat aanlyn in die vaktydskrif Nutrition & Diabetes gepubliseer is, dui daarop dat dit moontlik is om die verslawende begeertes om te keer.

Dertien vetsugtige mans en vroue is vir die navorsing gebruik. Agt het ’n nuwe verslankingsprogram gevolg wat aan die universiteit ontwikkel is en vyf was in ’n kontrolegroep.

Al die deelnemers het MRI-skanderings ondergaan aan die begin en einde van die ses maande lange ondersoek. Dit het veranderings getoon in die brein se beloningsentrum wat met leer en verslawing verband hou.

Almal het ’n aangepaste weergawe van die iDiet gevolg wat op wetenskap gegrond is. Hulle het porsiebeheerde spyskaarte, vullende maaltye en wenkblaaie gekry. Die spyskaarte het bestaan uit koolhidrate met ’n lae glukemiese indeks wat meer vesel en proteïen bevat. Omdat dit stadiger verteer, veroorsaak dit nie so baie wisselings in bloedglukose nie en laat dit jou gevolglik minder honger voel.

Hulle het ook groepondersteuningsessies bygewoon en individuele e-posse van voedingkundiges gekry om hulle aan te spoor.

Ná ses maande het die brein se beloningsentrum ’n hoër sensitiwiteit vir gesonde kosse getoon. Dit dui op ’n verhoging in die genot wat daaruit geput word deur dit te eet. Die sensitiwiteit vir “slegte” maaltye het ook afgeneem.

“Die verslankingsprogram is spesifiek ontwerp om mense se reaksie op verskillende kosse te verander. En ons ondersoek toon die diegene wat daaraan deelgeneem het, het ’n verhoogde begeerte vir gesonder kosse gehad tesame met ’n verlaagde voorkeur vir ongesonde kosse.

“Die gesamentlike uitwerking daarvan is uiters belangrik vir volhoubare gewigsverlies,” verduidelik Sai Krupa Das van die USDA HNRCA en ’n medeprofessor aan die Friedman-skool.

“Na ons beste wete is dit die eerste aanduiding van hierdie belangrike omskakeling.”

Die navorsing kan die eerste stap wees weg van maagomleidings, wat dalk met gewigsverlies help, maar ook die algemene genieting van kos verminder.

© Cover Media