Maar eeue gelede was gisting al manier waarop mense hul kos langer kon laat hou.

Die proses beleef nou ’n herlewing, en afgesien daarvan dat niks verlore hoef te gaan nie, kan gegiste kos propvol voedingstowwe wees wat ons liggaam nodig het.

Pete Evans, ’n sjef en opgeleide gesondheidsafrigter van New York, beskryf gegiste groentes aan Mind Body Green as “die natuur se probiotika”.

Dit sluit melksuur in, wat voordelig is vir goeie vertering. Gelukkig hoef ’n mens glad nie ’n hele maaltyd van gegiste groente te eet nie. Maar as jy dit elke dag as bykos eet, kan dit jou ingewande gebalanseerd hou en gesonde “maagflora” bevorder. Pete verduidelik dit laat alles van jou vertering tot jou senustelsel veel beter werk.

Gegiste kosse kan ook moegheid help bestry deur jou energievlakke ’n hupstoot te gee. As jy gereeld oefen of net ’n energie-inspuiting nodig het, kan dit die moeite werd wees om dit te beproef.

Gegiste groente is onder meer suurkool en kimchi, ’n gespeseryde Koreaanse bykos.

Maar Pete het die webtuiste gewaarsku nie almal moet gegiste kosse by hul dieet insluit nie. Party mense ly byvoorbeeld aan toestande waarvoor gegiste kosse nadelig is. Mense met skildklierprobleme moet ook versigtig wees, want gegiste groentes kan die skildklier onderdruk.

As jy sekere antidepressante drink, moet jy ook gegiste kosse vermy. As jy onseker is, moet jy liewer mediese advies inwin voor jy dié tegniek beproef.

As jy gisting by die huis wil beproef, hou in gedagte dis ’n stadige proses. Pete maan byvoorbeeld suurkool moet besonder goed gegis word en dan nog drie maande in die koelkas verouder word om die histamien soveel moontlik te verminder.

© Cover Media