Maar daar is hope ander kossoorte wat dieselfde kan doen, en dit was nog nooit so maklik om dit deel te maak van jou daaglikse eetplan nie. Of jy ’n gesonde eetplan voor Kersfees volg of jou intellek wil verskerp, hier is ons topkeuses.

Broccoli

Jy het dalk kleintyd jou neus vir broccoli opgetrek, maar jy is nou mooi groot; dis tyd om dié groente ’n kans te gee. Broccoli is propvol lignien, ’n groep chemiese verbindings wat talle voordele vir breinfunksies inhou, soos om te dink, redeneer, onthou, verbeelding en nuwe woorde aan te leer. Dit bevat ook baie glukusinolaat, wat die asetielcholienvlakke – noodsaaklik in die sentrale senuweestelsel – bevorder.

Klapperolie

Dié olie was baie gewild vanjaar en dit gaan so bly. Bekendes, onder wie die model Miranda Kerr, kan nie uitgepraat raak oor hoe dol hulle daaroor is nie. Waarvoor wag jy? Voeg heilsame klapperolie by jou dieet. Dis ryk aan mediumketting trigliseried en ’n natuurlike bron van dieetvet. Daar is al in studies bevind dat dit help met gewigsverlies en breinfunksie verbeter. Klapperolie het ook ’n hoër hitteverdraagsaamheid, wat beteken jy sal meer van die voordelige vette in kos behou as jy jou gewone kookolie vir klapperolie verruil.

Groentee

Dié wonderdrankie se lof, wat kankerverminderende eienskappe insluit, word al lank besing. Maar het jy geweet watter voordele dit vir breinfunksie inhou? Daar is in onlangse studies bevind ’n groentee-ekstrak verbeter kognitiewe funksie, veral in die brein se werkende geheue. Probeer jou koppie boeretroos soggens vir ’n koppie groentee verruil. Jy kan heuning of suurlemoen byvoeg om dit lekkerder te laat smaak.

Swartpeper

Sout en peper is stapelitems in ’n gereg, en peper bevorder ook breingesondheid. Maak seker jy kies vars gemaalde peper omdat dit voordeliger as die fyn soort is. Peper is ryk aan piperien, ’n alkaloïed wat die afbreek van dopamien en serotonien – twee neuro-oordraers wat belangrik is vir breingesondheid en gemoedsregulering – kan help beperk. Dit kan ook help met die behandeling van Parkinsonsiekte en selfs breinveroudering en Alzheimersiekte help voorkom. Belê dus in ’n pepermeul en geniet dit ruimskoots.

© Cover Media