Mense gebruik blykbaar net ’n tiende van hul verstandelike vermoë. As dit die geval is, wil ’n mens mos die meeste daaruit put.

Daar is klein dingetjies wat jy kan doen om jou breinkrag ’n hupstoot te gee wat nie jou leefstyl raak of enige groot veranderinge vereis nie.

Boaan die lys is internetgebruik. Wanneer jy aanlyn is, moet jy soek, keuses maak en inligting opneem, wat die deel van jou brein aktiveer wat verband hou met ingewikkelde interpretasie en besluitneming.

Navorsers aan die Universiteit van Kalifornië het vasgestel internetgebruik veroorsaak neurale aktiwiteit, terwyl iets soos lees dit nie doen nie. Daar is dus meer breingebruik by dié wat gereelder aanlyn is. Maar dit beteken nie jy moet ure voor die rekenaar deurbring nie; ’n halfuur per dag is voldoende.

Vir ’n gesonde brein moet jy jou mond skoon jou, want kognitiewe gesondheid hou verband met orale higiëne. Britse navorsers het bevind tandvleissiekte, wat maak dat jou tandvleis bloei en jou asem sleg ruik, hou verband met breinwerking op lang termyn, en dit raak nie net bejaardes nie. Jy hoef net soggens en saans twee minute lank tande te borsel en te vlos. As jy sukkel, gebruik ’n elektriese tandeborsel.

Dit beteken ook jy moet let op wat jy in jou mond sit. Bloubessies is ’n goeie beginpunt, want navorsers het bevind antosianien – die donkerblou pigment wat die bessies hul kenmerkende kleur gee – bevat chemikalieë wat reguit na die deel van die brein gaan wat geheue en leer beheer. Sprinkel ’n paar oor jou pap voor ’n toets of onderhoud; dalk is dit die sleutel tot sukses. Die Nasionale Instituut vir Veroudering asook die Tufts-universiteit in Amerika is voorstanders van dié mening.

Oefening help ook; dit help jou nie net fiks word en gewig verloor nie. Oefening kan veroudering in die brein omkeer en jou langer aan die gang hou. Skerpheid, akkuraatheid en breinweefsel word verbeter, wat jou oor die algemeen ’n gesonder en meer gemotiveerde verstand gee.

“Daar is voorlopige bewyse dat oefening sinaptiese plastisiteit verbeter: die breinmeganisme waarmee nuwe herinneringe gevorm word,” verduidelik Andrew Scholey, ’n dosent aan die instituut vir breinwetenskap aan die Swinburne-universiteit in Melbourne, Australië.

© Cover Media