Selfs die mees gesondheidsbewustes onder ons swig soms voor die versoeking, maar daar is ’n manier om af en toe ’n gemorsmaaltyd te eet sonder om te skuldig te voel. Nuwe navorsing toon ’n sarsie hoë-intensiteitoefening voor jy aan dié kos smul, kan jou bloedvate help beskerm en net agt minute van vinnige fietsry is vermoedelik genoeg.

’n Ondersoek deur wetenskaplikes by die Universiteit van Exeter dui daarop kort sarsies aktiwiteit is beter vir jou as langer lengtes teen ’n matige pas. Die navorsers hoop dit sal jong mense aanmoedig om meer te oefen – want die riglyn dat jy minstens ’n uur per dag moet oefen, laat baie van hulle daarvan afsien.

Dit is al ’n ruk bekend dat oefening voor ’n vetryke maaltyd jou bloedvate die invloei van gemors kan help hanteer, maar die nuwe navorsing toon blitsige gimsessies is besonder doeltreffend. Dit is belangrik, want kardiovaskulêre siektes soos hartaanvalle is een van die grootste oorsake van dood ter wêreld. Probleme met bloedvate kan ’n vroeë aanduier van die probleem wees en dit is bekend dat dit ná ’n vetterige maaltyd nie so goed werk nie.

'Probleme met bloedvate kan ’n vroeë aanduier van die probleem wees en dit is bekend dat dit ná ’n vetterige maaltyd nie so goed werk nie.'

“In ag genome dat baie min adolessente tans die aanbevole minimum van ’n uur van minstens matige intensiteit oefening per dag haal, kan kleiner hoeveelhede oefening wat teen ’n hoër intensiteit uitgevoer word ’n aantreklike alternatief bied om bloedvaatwerking by adolessente te verbeter,” verklaar dr. Alan Barker van die universiteit die navorsing wat in die American Journal of Physiology - Heart and Circulatory Physiology gepubliseer is.

Om die idee te toets, het groepe jong mense 25 minute matige oefening of agt minute teen ’n hoër vlak gedoen en toe ’n vetryke melkskommel gekry om te drink. Terwyl diegene wat langer geoefen het beter bloedvaatwerking gehad het as dié wat niks gedoen het nie, het dit beduidend verbeter by diegene wat agt minute voluit geoefen het.

Dit kan moeilik wees om te besluit wanneer jy ’n gewone gimsessie by jou daaglikse roetine moet inpas. Ideaal gesproke moet jy tussen twee en drie uur ná ’n volle maaltyd in die gim gaan sweet – enigiets gouer sal jou te versadig laat voel om voluit te oefen. Maar onthou ook jou liggaam het brandstof nodig om op die trapmeul te kan draf. Waneer ’n langer tydperk verloop het, eet ’n klein peuselhappie voor jy jou oefenskoene aantrek.

© Cover Media