Jou skooljare is na bewering die gelukkigste tyd in jou lewe en daar steek nogal waarheid in die stelling.

Dan kom daar ’n laagtepunt wat ongelukkig langer as 40 jaar duur en ons begin eers op 65 weer beter voel. Dit is nog nie die einde nie, want jy moet wag tot jy 75 is voor jy eers weer werklik plesierig begin voel.

Dr. Ioana Ramia van die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis, die leier van die navorsingstudie, het gehoop om uit te vind op watter manier mense se houding teenoor geluk in hul lewe met die ouderdom saam verander. Die gedagte hieragter was dat, sodra dit vasgestel is, ’n plan ingestel sou kon word om mense te help.

Sy het die konferensie van maatskaplike beleid in Australië hieroor toegespreek en van die sleutelpunte uitgelig. Een van die punte was dat paartjies geneig is om die toppunt van tevredenheid te bereik net voor hulle ouers word; daarna daal dit drasties.

“Daarna bly dit laag, maar dit verhoog tog effens, en die hoogste is rondom 80 jaar,” het sy bygevoeg. “Daar is dus beslis iets om na uit te sien.”

Die middeljare word as die moeilikste beskou en dit is in hierdie tyd dat werk en finansiële probleme die grootste rol in mense se geluk speel. As jy jonk is, of baie ouer, lyk dit asof hierdie kwessies bedaar.

Behuising speel ook ’n rol. Hoewel jongmense hulle nie bekommer oor hul tuiste nie, wil hulle graag naby hul werk en hul vriende woon. Met die aanstap van die jare verhoog die waarde wat jy aan die huis self heg, en natuurlik ook dié van die omgewing waarin dit geleë is.

“In hierdie stadium is geluk op ’n laagtepunt en dit begin eers styg wanneer mense op ander goed, soos hul vrye tyd, begin fokus,” het sy bygevoeg.

Veiligheid was vir mense in alle ouderdomsgroepe ’n prioriteit, terwyl veral gesondheid van belang was vir mense in hul middel-30’s en dan ook natuurlik vir ouer mense.

Hoewel die studie aangedui het daar is hoogte- en laagtepunte van geluk, het dit nie die rede daarvoor getoon nie – en ook nie die stappe wat gedoen kan word om die balans te herstel nie.

Die syfers is bepaal nadat die dinamika van huishouding, inkomste en arbeid in die Australiese oorsig bestudeer is.

© Cover Media