KEER DAT JY OORGEWIG DIABETES KRY

Tipe 2-diabetes neem so toe dat daar al gepraat word van diabesiteit, 'n samevoeging van diabetes en obesiteit

Deur Ilse Salzwedel

ELKE liewe mens wat sowat 10 kg oorgewig is, loop die gevaar om tipe 2- diabetes te kry. As jy vetsugtig is (20 kg oorgewig of meer), is jou kans baie groot om dit op te doen.

In Suid-Afrika is meer as twee uit elke vyf mense oorgewig of vetsugtig en ons is, soos Amerika, besig om af te stuur op drie epidemies: vetsug, tipe 2-diabetes en hartsiektes.

Spesialiste in die Weste waarsku dat tipe 2-diabetes ál meer by kinders voorkom, terwyl dit dertig jaar gelede eintlik net by mense oor vyftig gesien is. Ook in Suid- Afrika word tipe 2-diabetes, hoë bloeddruk en hoë bloedcholesterol by oorgewig kinders van net agt jaar oud gediagnoseer. Dit is uiters sorgwekkend.

Ons moet hierdie vloedgolf van tipe 2-diabetes keer deur iets aan ons kinders se eetgewoontes en gebrek aan oefening te doen, sê die Pretoriase pediatriese endokrinoloog dr. Jacobus van Dyk.

"As ons nie vinnig optree nie, voorsien ek groot probleme."

Of jy net oorgewig is, op pad is na diabetes of reeds tipe 2-diabetes het: Dis dringend noodsaaklik dat jy gesond eet en oefen. (En al is jy gesond, is dit steeds 'n goeie plan om die riglyne te volg)

EET SO

Sorg dat jy genoeg vesel inkry. Twee vrugte per dag en baie groente saam met witvleis is die beste.

Bly weg van koeldrank en vrugtesap – dit bevat baie suiker.

Rooster vleis en vermy diepgebraaide kos.

Posjeer of kook eiers.

Onthou, wegneemkos (diepgebraaide hoenderstukke, hamburgers en pizza met baie kaas) bevat minstens drie keer soveel vet as gekookte kos.

Volg 'n lae GI- (lae glisemiese) eetplan wat baie min rys, rooivleis, aartappels, pasta en sjokolade bevat.

OEFEN SO

Diabete vind baie baat by oefening, maar alle Suid-Afrikaners behoort aktiewer te raak om tipe 2-diabetes te voorkom.

Kry ons kinders weg voor die TV en aan die beweeg – of 'n diabetes-pandemie is ons voorland.

Dertig minute se oefening drie keer elke week is noodsaaklik. Sokker, swem, tennis, fietsry, ballet of moderne danse bied alles uitstekende oefening.

Onthou, as jy nie jou diabetes met reg eet, oefening en pilletjies beheer nie, is daaglikse inspuitings jou voorland. En dis g'n grap nie.

KONTAKBESONDERHEDE:

DIABETES SUID-AFRIKA

011-792-9888/7, of www.diabetessa.co.za. (Daar is 92 steungroepe, nege takke en 'n netwerk gesondheidswerkers landwyd.)

DR. JACOBUS VAN DYK

Little Company of Mary-hospitaal, Pretoria: 012-460-7900/1

Huisgenoot-POLS Somer 2007/8