Die meeste mense weet wat hul gewig in toom en hul energievlakke hoog kan hou, maar wat moet jy eet om die horlosie stadiger te laat tik?

Wat om te eet:

Die dermatoloog dr. Nicholas Perricone glo ’n verjongende dieet bevat baie water, vrugte, groente en kosse wat ryk is aan proteïen en gesonde vette. Donkergroen blaargroente is ryk aan karotenoïede, wat ’n belangrike antioksiderende en anti-inflammatoriese invloed het. Dit verminder die risiko vir hartkwale, blokkeer die velontsteking wat sonlig veroorsaak en beskerm jou oë.

Ander items wat jy by jou dieet moet insluit, is wilde salm, hawermout en groentee. Dis nie net gesond vir die hart en voedsaam nie, dit het ook kragtige anti-inflammatoriese eienskappe wat jou liggaam, brein en vel teen die gevolge van veroudering kan help beskerm.

Om vir jou jeug te eet beteken nie jy hoef lekkernye te vermy nie. Rooiwyn, veral cabernet sauvignon, bevat ’n wonderlike klein antioksidant, resveratrol, wat hartgesondheid bevorder, jou risiko vir kanker verminder en teenverouderende eienskappe het – maar net as jy matig drink.

Donkersjokolade – die goeie soort wat 70 persent of meer kakao bevat – is hoog in teenverouderende antioksidante soos die kragtige flavan-3-ols. “Kakao bevat dubbeld soveel flavan-3-ols-antioksidante as rooiwyn en vyf keer meer as groentee,” sê Nicholas.

Wat om te vermy:

Die vier grootste vyande in jou voedseloorlog teen veroudering is:

  • Suikerryke kosse
  • Eenvoudige koolhidrate, soos witmeel en rys
  • Transvette
  • Alkohol

BRON: Fedhealth