:

Abigail de Jager

  • Vermy verfynde koolhidrate soos witbrood, koekies en wit rys. Vervang suiker sover moontlik deur heuning.
  • Jy kan nooit te veel groente eet nie.
  • Dis beter dat jy die hele dag aan gesonde happies peusel as een yslike maaltyd verorber.

Anzel Stofberg

  • Moet nooit honger word nie en voorkom so dat jy op een slag te veel eet. Eet deur die loop van die dag klein maaltye of peuselhappies.
  • Moenie koolhidrate uitsny nie; jy het dit nodig vir vetverbranding.
  • Geniet af en toe ’n maaltyd waarin jy “kul”. Jou liggaam kry nie verniet ’n drang na sekere kos nie. Net soos jy nie slank sal word van een oefensessie nie, sal jy ook nie vet word van net een snytjie koek nie.

Caylene Marais

  • Moenie maaltye oorslaan nie. Dit sal jou nie maer maak nie, maar jou liggaam vet laat opberg.
  • Drink baie water; hidrasie is belangrik vir ’n gesonde, pragtige liggaam.
  • Moenie sekere voedselgroepe uit jou dieet sny nie; jy sal dit nie kan volhou nie. Kies liewer gesonde, vars produkte uit verskillende voedselgroepe.

Dipalesa Mbola

  • Moenie ontbyt oorslaan nie. Dit klink dalk afgesaag, maar dis belangrik. Ek eet gewoonlik muesli en grondboontjiebotter.
  • Eet peuselhappies tussen maaltye sodat jou energie egalig bly. Provitas, jou gunstelingvrugte of gedroogte vrugte is ’n goeie keuses. Drink liewer water as koeldrank.
  • Eet liefs nie ná seweuur saans nie. Jy beweeg dan nie baie nie, en jou kos word as vet geberg. Eet gestoomde groente.

Jade Hubner

  • Eet hawermout met bessies of eierwit, een eiergeel en ’n snytjie gesondheidsbrood vir ontbyt.
  • Eet groente en vis of hoender vir middagete en aandete. As jy geoefen het en honger is, kan jy met middagete ’n patat eet. Eet slaai en sop en probeer jou kos interessant maak. Eet geen ander kaas nie as vetvrye maaskaas.
  • Peusel aan amandels, groente, maaskaas, proteïendrankies en bessies. Onthou om met een maaltyd per week te “kul” as beloning omdat jy so gesond geëet het.

Julia Petersen

  • Drink baie water; dit spoel gifstowwe uit die liggaam. As jy voor en ná maaltye ’n glas water drink, sal jy jou nie ooreet nie.
  • Moet nooit maaltye oorslaan nie; as jy dit doen berg jou liggaam die kos wat jy eet as vet. Eet liewer vyf klein maaltye per dag.
  • Eet baie appels en waatlemoen. Dis voedsaam en gesond, bevat geen kilojoules nie en bestaan omtrent net uit water; jy kan soveel as jy wil daarvan eet sonder dat jy gewig aansit.

Matlala Mokoko

  • Matigheid is belangrik as jy so baie soos ek van kos hou.
  • Eet gereeld en maak seker wat jy eet bevat noodsaaklike daaglikse minerale en vitamiene.
  • Dissipline; dis nie net nodig wat jou dieet betref nie, maar kan ook jou drome waar laat word.

Mishka Patel

  • Weet wat jou liggaam nodig het. Eet gesonde porsies/maaltye ses keer per dag.
  • Peusel aan vrugte of neute tussen jou drie maaltye.
  • Drink baie water. Groentee is ook goed vir jou.

Rolene Strauss

  • Wees gereed; as jy jou maaltye betyds berei, sal jy nie aan ongesonde kos peusel terwyl jy aan jou volgende maaltyd dink nie. In ons gejaagde lewe is voorbereiding noodsaaklik vir ’n gesonde, energieke lewe.
  • Restaurante sit ook gesonde kos voor; ’n aandjie uit beteken nie noodwendig ongesond eet nie. Jy kan altyd iets spesiaals kies wat ook gesond is.
  • Kos is brandstof: Sal jy jou motor se brandstoftenk onnodig volmaak? Kos is jou liggaam se brandstof; jy hoef jouself nie vol te prop net ter wille van eet nie. Eet die regte hoeveelhede van die regte voedsel vir energie, breinkrag en gesondheid.

Tidimalo Sekhalo

  • Drink baie water. Die liggaam bestaan meestal uitwater; daarom is dit belangrik dat jy hidreer.
  • Eet gereeld; maak seker jou liggaam het ’n egalige energievloei.
  • Ek drink graag saans ’n koppie groentee. Dit help die liggaam ontslae raak van gifstowwe en is goed vir die opelyf.

Tshegofatso Monggae

  • Konsentreer op ’n balans tussen honger en versadig.
  • Eet bedags klein porsies. As jy honger is, peusel aan kraakbeskuitjies of ’n vrug.
  • Eet gesonde, natuurlike, onverwerkte kos. Maak gerus ’n groentetuin.

Ziphozakhe Zokufa

  • Stel haalbare doelwitte. Maak gesonde kos waarvan jy hou deel van jou dieet.
  • Geniet kook, of leer kook. As jy jou eie kos berei, weet jy presies wat jou liggaam binnegaan.
  • Moenie jouself afskeep nie; kry liewer ’n balans. Bederf jouself met klein lekkertes terwyl jy matigheid voor oë hou.