Vergeet van diëte volg. Gooi weg daardie duur boeke wat jou ’n pragtige, slanke liggaam binne drie weke beloof. Skrap daardie lysie teen jou muur wat jou verbied om sekere kosse te eet. Die lewe gaan oor meer as die afmeet van elke happie wat jy in jou mond sit, en verseker ook oor meer as skuldig voel oor ’n ekstra snytjie koek.

Pleks van tyd en energie mors aan wat om nie te eet nie, wat jou die vetjies kan laat aansit en wat verbode is, probeer bewustelik eet.

Wat behels dit?

  • Dat jy bewus is van die goeie en voedsame eienskappe van die voedsel wat jy kies.
  • Dat jy al jou sintuie gebruik in die keuse van voedsel wat vir jou bevredigend is en jou liggaam voed. Bewustelike eters is bewus van hul honger en reageer daarop deur gesonde kos te eet.
  • Jy eet dus wanneer jy honger is en hou op eet sodra jy versadig is.
  • Luister na jou lyf en wees bewus van wat op jou bord is.

Sandra Aamodt, ’n neurowetenskaplike en wetenskapskrywer, sê  jy moet saam met jou eetlus werk pleks dat jy dit vrees.

Die Centre for Mindful Eating sê: “Bewustelik wees bevorder balans, keuse, wysheid en die aanvaarding van wat is.”

Om diëte te volg is gevaarlik en die inkorting van kalorieë veroorsaak ’n verlies aan spiermassa en dikwels ’n gewigstoename. Wanneer jy vinnig gewig verloor, sit jy dit dikwels weer aan met meer vet, minder spiermassa en ’n stadiger metabolisme.

Sommige gevolge van diëte is:

-         hoofpyn, spierkrampe, moegheid

-         verlies aan beendigtheid

-         verhoogde risiko vir vetsug en hartaanvalle

-         verlies aan hartspiermassa, verhoogde risiko vir hartaanvalle en hartkwale

-         skade aan bloedvate

Bly weg van uithongerdiëte, vas, laekaloriediëte, vreemde nievoorskrif-aanvullings of -dieetpille. As dit te goed is om waar te wees, is dit waarskynlik. Suiweraars en ontgiftigers het min wetenskaplike basis en kan gevaarlik wees.

Wees lief vir jou liggaam, wees lief vir jou kurwes en wees lief vir jou kos.

-Megan Bursey

Bronne: webmd.com; livestrong.com; thecenterformindfuleating.org; ted.com