Wanneer dit tyd is vir ’n groot okkasie of die somer aanbreek, sit baie mense af gimnasium toe om van daardie hardnekkige oortollige kilogramme ontslae te raak.

Nou beweer wetenskaplikes oefening laat mense dikwels hongerder voel en dus meer eet, en dit beteken oefening is dus nie so doeltreffend as dit kom by maerder word nie.

Hul raad is as jy wil skraler word, moet jy eerder let op hoeveel kilojoules jy inneem – met of sonder oefening.

Dr. Richard Cooper en dr. Amy Luke van die Loyola-universiteit in Chicago se mediese skool het in die Tydskrif van Epidemiologie geskryf: “Liggaamlike aktiwiteit is uiters belangrik as ’n mens jou algemene gesondheid en fiksheidsvlak wil verbeter, maar daar is bewyse dat dit jou gewig kan laat aansit. Wanneer mense aangeraai word om meer aktief wees, trappe te klim en meer vrugte en groente te eet, begryp hulle nie hul kilojoule-inname moet ook aandag kry nie.”

Volgens die wetenskaplikes het kliniese toetse getoon wanneer kilojoules beperk word (sonder oefening), verloor die mens dieselfde hoeveelheid gewig as wanneer hy sy kalorie-inname beperk en oefen.

Die navorsers het natuurlik nie oefening buite rekening gelaat nie, maar hulle het toegegee dis nie ’n kitsoplossing vir mense wat probeer gewig verloor nie.

“Alhoewel dit baie voordele het, kan ’n mens weens verhoogde fisieke aktiwiteit meer kilojoules inneem, tensy jy ’n doelbewuste poging aanwend om dit nie te doen nie,” het hulle afgesluit.

Dit beteken egter glad nie oefening is onnodig nie; dit is eerder ’n waarskuwing dié om op jou dieet te let as jy aan strawwe oefening deelneem, maar nie skraler word nie.

Eet ongeveer twee uur voor jy gaan oefen ’n klein happie met proteïen as basis om jou kosdrange ná die oefensessie in toom te hou.

’n Goeie opsie is ’n vrugteskommel met Griekse joghurt as basis, of grondboontjiebotter op ’n sny volgraanroosterbrood. Maak net doodseker wat ook al jy eet, bevat minder as 1 250 kilojoules. Jy kan ook ’n app op jou selfoon laai om sodoende ’n ogie te hou oor hoeveel kilojoules jy inneem.

© Cover Media