Die dieetkundiges Justine Aginsky en Lisa Raleigh gee hierdie top-wenke oor hoe om gesonder kos by ’n kitskosrestaurant te kies.

Al die voedingswaardes is bereken per 100 g. Jy sal waarskynlik meer as 100 g op ’n slag eet, veral pizza! As jy 300 g eet, sal die syfers dus verdriedubbel.

  • Tjips kan 11 g vet en 173 mg sout by jou maaltyd voeg. Neem eerder jou kos huis toe en maak oondgebakte tjips daarby.
  • Vra of hulle bruinbroodrolletjies vir burgers het. Dit sal vesel by jou maaltyd voeg.
  • Eet pizzas met groente, pynappel of maer hoender pleks van vetterige of souterige vleis soos salami – en minder kaas.
  • Kies gegeurde laevetmelk, onversoete vrugtesap, mineraalwater of dieetkoeldrank pleks van soet gaskoeldrank of melkskommels.
  • Eet kitskos as ’n spesiale bederf en op dae wanneer jy oefening doen, en eet dan die res van die dag gesonder.
  • Sluit ’n slaai sonder slaaisous by jou maaltyd in om jou veselinname te verhoog.
  • Drink water voor jy kitskos eet. Jy voel die helfte van die tyd honger omdat jy eintlik dors is.
  • Bestel saam met ’n vriend sodat julle ’n maaltyd kan deel.
  • Bestel altyd hoender sonder vel.
  • Haal die boonste helfte van die burger se rolletjie af om die vetinhoud van die maaltyd te verminder.
  • Oppas vir kombinasies wat tjips en ’n gaskoeldrank insluit.

Deur Kim Arendse