’n Nuwe ondersoek het getoon nagereg voor ’n maaltyd is dalk die geheim tot gewigsverlies, want dit hou jou eetlus in toom.

Navorsers aan die Imperial-kollege in Londen het die smagting na glukose – wat in koek, sjokolade en talle nageregte voorkom – en energie in die brein ondersoek. Hulle het ’n groep rotte die keuse gegee om suikerwater te drink of hul gewone kos te vreet, en gemerk hulle vreet gewoonlik meer van die korrels as soetgoed.

Maar toe hul dosis glukokinase – ’n breinproteïen wat tred hou van hoeveel glukose geëet word – verhoog is, het die rotte hulle tot soetgoed gewend pleks van hul gewone kos.

Daarna is die rotte 24 uur uitgehonger, wat veroorsaak het dat die glukokinase in hul brein baie aktiewer word.

Daarom meen die navorsers dat mense met ’n suikertand waarskynlik meer glukokinase vervaardig. Dit kan ook die rede wees waarom dit vir party mense moeiliker is om iets soets te weerstaan. En die bevindings wat in die Journal of Clinical Investigation gepubliseer is, kan dalk tot nuwe maniere van verslanking lei.

Dr. James Gardiner, wat aan die ondersoek deelgeneem het, moedig mense aan om voor ’n maaltyd aan glukoseryke kosse weg te lê. Hul brein sal gou vasstel dat genoeg glukose verteer is en die liggaam die res van die kalorieë wat ingeneem word, natuurlik laat tel. In die geheel kan dit verhoed dat ons ons ooreet.

Dieselfde geld nie vir die eet van soet kosse tydens ’n maaltyd nie, want dit sal langer duur voor die brein die inname van glukose verwerk.

As jy daarteen gekant is om ’n nagereg as voorgereg te eet, is styselkosse ook vol glukose. Probeer dus brood, rys, pasta of selfs ’n klein porsie skyfies aan die begin van jou aandete eet. As jy inspirasie soek, gaan steek kers op by die Italianers wat gewoonlik geregte soos risotto as voorgereg eet.

© Cover Media