Met die somer wat om die draai is, wil die meeste van ons die paar kilogram afskud wat ons in die winter aangesit het. Verander jou dieetroetine net effens en jy sal gou resultate sien.

  • ’n Goeie begin

Studies toon ontbyt eet bevorder gewigsverlies. Begin jou dag met ’n bakkie vars vrugte en gewone laevet-jogurt, heelgraan- en laesuiker-ontbytkos, of ’n geposjeerde eier op rogbrood.

  • Hou aan kou

Moenie ophou eet nie! Eet klein, gereelde maaltye en moet nooit ’n maaltyd oorslaan nie. Om deur die dag jou bloedsuikervlakke onveranderd te hou sal verhoed dat jy in die slagyster trap om met die volgende maaltyd te veel te eet omdat jy doodhonger is.

  • Wees voorbereid

Pak elke dag jou middagete in sodat jy nie in die versoeking kom om wegneemetes en geriefsetes by supermarkte te koop nie: Die porsies is gewoonlik te groot en dit bevat baie vet. Sluit gesonde peuselhappies by jou kospakkie in, soos groentestokkies, vars neute of ’n laevetjogurt. Maak ook seker jou middagete bevat baie vars groente, ’n laevetproteïen en ’n veselryke heelgraankoolhidraat.

  • Beheer porsies

’n Slim plan om jou porsiegrootte te beheer is om uit ’n kleinbordjie te eet. Die helfte van die bordjie behoort groente of slaai te bevat. Wanneer jy uiteet: Ruil die skyfies vir groente of ’n slaai, en moenie bang wees om ’n wegneemsakkie te vra nie.

  • Vat ’n sluk

Neem genoeg vloeistowwe in. Dors word dikwels vir honger aangesien. Genoegsame daaglikse vloeistofinname is sowat 3 liter vir mans en 2,2 liter vir vroue. Neem die meeste daarvan in die vorm van vars, skoon water in. Vermy suikerryke gaskoeldranke en vrugtesappe, aangesien dit onnodige kalorieë by jou dieet voeg.

  • Raak aktief

Om meer aktief te raak sal jou metabolisme verbeter en kalorieë verbrand. Doen daagliks minstens 20 minute lank oefening, en jy sal in ’n japtrap ’n verandering sien.

Bron: Helen de Beer, Dnalysis Biotechnology-kliëntebestuurder en -dieetkundige

Oor Helen de Beer:

Helen het in 2007 ’n B.Sc.-graad in dieetkunde aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Nadat sy ’n paar jaar in ’n privaat praktyk gewerk het, het sy ’n diploma in bemarkingsbestuur aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Helen stel veral belang in funksionele voedingkunde en voeding-genomika, en sy is steeds besig om haar kennis hieroor uit te brei. Sy is passievol daaroor om optimale gesondheid deur voeding en leefstyl te bereik en haar kliënte te help om hul doelwitte met leefstyl en gewig te behaal.

Besoek dnalysis.co.za vir nog nuttige inligting oor voeding.