Ons weet om kos as troos te gebruik, kan ’n probleem raak. Baie mense wend hul tot kalorieë ná ’n moeilike dag op kantoor, as dinge in hul persoonlike lewens skeefloop of as hulle moeg is. Maar daar is nou nog ’n rede hoekom mense hul aan ongesonde eetgoed vergryp – eensaamheid.

In ’n studie by die Ohio-staatsuniversiteit het sielkundiges bevind vroue wat voel hulle het niemand om dinge mee te deel nie, kan sterker hongerpyne ervaar en net deur groot maaltye versadig word. Dit hou glo verband met toeka se tye toe eet ’n sosiale aangeleentheid was.
Die hormoonvlak het afgeneem nadat hulle die kos geëet het en agterna weer toegeneem.

Navorsers het 42 vroue gevra om nie saans te eet nie en om dan ’n groot ontbyt te eet. Voor en ná die etes moes elkeen aandui hoe honger hulle was en hul bloed is vir ghrelien – die sogenaamde hongerhormoon – getoets. Hulle is ook gevra hoe eensaam hulle gevoel het en wat ander mense oor hul sosiale lewens sou sê.

Die hormoonvlak het afgeneem nadat hulle die kos geëet het en agterna weer toegeneem. Daar is ook bevind vroue wat erken het dat daar ’n gebrek aan menslike kontak in hul lewens is, het ’n skerper styging in ghrelien ervaar en meer daarvan vervaardig. Hulle het ook gesê hulle is hongerder.

“Die behoefte aan sosiale konneksie is fundamenteel tot die menslike natuur. Gevolglik is mense meer honger as hulle nie sosiale bande het nie,” lui die verslag in die joernaal Hormones and Behavior.

Ook belangrik is dat gewig ’n rol gespeel het in hoe die vroue voel. Dié wat eensaam en slank was, het hongerder gevoel, terwyl oorgewig vroue nie enige veranderinge getoon het nie. Dit mag dalk wees omdat vetsugtiges nie gemaklik daarmee voel om voor ander te eet nie.

Dis nie die enigste studie wat dui op hoe skadelik eensaamheid kan wees nie. Daar is al voorheen bevind ’n gebrek aan vriende kan lei tot hoë bloeddruk, depressie en stres.

© Cover Media