In ’n nuwe studie is bevind om afgesonder te wees of alleen te bly, kan jou kans om voortydig te sterf, aansienlik verhoog.

Navorsers, onder leiding van dr. Julianne Holt-Lunstad van die Brigham Young-universiteit in Utah, het twee studie-oorsigte gedoen om tot die slotsom te kom. Die eerste het behels die ontleding van 148 studies met meer as 300 000 deelnemers, en die tweede het gefokus op 70 eksperimente van meer as 3,4 miljoen mense in Noord-Amerika, Europa, Asië en Australië.

“Sterk bewyse is gevind dat sosiale afsondering en eensaamheid die toename in voortydige sterftes aansienlik verhoog, en die omvang van die risiko is groter as dié van talle voorste gesondheidsaanwysers,” het Julianne gesê.

Uit die eerste deel van die navorsing is bevind sosiale bande verminder die risiko van voortydige sterfte met 50 persent. Met die tweede oorsig het die span navorsers bevind sosiale afsondering, eensaamheid en om alleen te woon, verhoog die risiko op voortydige sterftes, en dit is gelykstaande – of dalk selfs groter – as die impak wat vetsug op voortydige sterftes het. 

“Welvarende nasies het die hoogste aantal individue wat alleen woon sedert sensusdata-insameling begin het, en waarskynlik ook die hoogste koerse in die menslike geskiedenis, met die syfers wat waarskynlik gaan toeneem,” sê navorsers. “Met ’n toenemende verouderende bevolking, sal die impak op openbare gesondheid na verwagting verhoog.”

Tesame met mense wat langer leef, neem egskeidingsyfers toe, wat beteken meer mense woon alleen.

Sowat 42,6 miljoen volwassenes ouer as 45 in Amerika is na raming eensaam en ’n kwart van die bevolking woon alleen. In Brittanje woon bykans sewe miljoen mense alleen, en die syfers sal na verwagting teen 2039 by nege miljoen draai.

Die navorsing is by die 125ste jaarlikse byeenkoms van die Amerikaanse Sielkundige Vereniging aangebied, en die span het voorgestel sosiale vaardighede word op skool aangeleer en dat sosiale verbintenis by dokters se ondersoeklysie gevoeg word.