Professor Judith Zelikof, van die Universiteit van New York, het navorsing gedoen oor die uitwerking van e-sigarette op swanger vroue en hul babas en het haar bevindings onlangs voorgelê by die belangrikste wetenskapkonferensie ter wêreld.

Lees ook: Nooit meer in die bui nie? Dis dalk hoekom . . .

E-sigarette, wat nikotien in dampvorm omsit wat rokers in staat stel om ’n bietjie van dié middel in te kry sonder om blootgestel te word aan ander kankervormende chemikalieë, het die afgelope paar jaar al hoe gewilder geword.

Baie vroue het van die gewone nikotienstokkies oorgeskakel na e-sigarette met die gedagte dat dit veiliger is vir hul baba. Professor Zelikoff hou egter vol dat dit beslis nie die geval is nie.

Trouens, sy het bevind die damp van die e-sigarette kan in werklikheid aansienlik gevaarliker wees vir die ongebore baba. Blootstelling aan die rook van e-sigarette kan in die toekoms lei tot leer-, geheue-, gedrag- en koördinasieprobleme.

Professor Zelikoff het babamuise gebruik vir haar navorsing. Sy het dié wat aan die dampe van e-sigarette in die baarmoeder en net na geboorte blootgestel was, vergelyk met dié wie se ma’s nie aan dieselfde dampe blootgestel was nie.

Ná blootstelling aan die dampe van gewone, sowel as nikotienvrye variëteite van e-sigarette wat tydens die studie gebruik is, was daar ’n merkbare verskil in die genetiese samestelling van die knaagdiere se breine.

Lees ook: Huisskoonmaak kan jou rietskraal maak

In totaal is daar ongeveer 2,630 gene geraak in die ontwikkelende frontale korteks – die gedeelte van die brein wat verantwoordelik is vir die hoër verstandelike funksies.

“Ons moet mense bewus maak van die risiko’s. Die belangrikste punt is dat hierdie e-sigarette grondiger getoets behoort te word ten opsigte van veiligheid,” het professor Zelikoff gesê. “Die persepsie is dat e-sigarette heeltemal veilig is vir swanger vroue en weerstandlose groepe, soos suigelinge, maar ons kan dit nie sê nie.

“Ons bevindings behoort mense se oë oop te maak deur aan te dui dat die gebruik daarvan tydens swangerskap potensieel gevaarlik kan wees.

“Dit behoort tot baie meer navorsing te lei – hierdie is slegs die begin.”

© Cover Media

Lees ook op Huisgenoot.com:

Musiek kan jou liefdeslewe ’n hupstoot gee

Is wolkbrood die antwoord op jou lae-koolhidraat-gebede?

Minder oefening ‘lei tot kleiner brein’

Die eenvoudige geheim om jou selfoon se batterylewe te verleng