Sarah Fisher, die hoof van die organisasie Substance Misuse, ­Advocacy, Research & Training (Smart) het by navraag verduidelik dat dié soort dwelms jou redelike brein daarvan weerhou om reg te werk. “Jy kan nie meer rasioneel optree nie, jy kan nie meer bepaal watter gevolge jou dade het nie en dit vernietig jou emosies en gewete.”

Sy het gereageer op die moord van Rosemary Theron (39) wat vermoedelik deur haar dogter, Phoenix Racing Cloud Theron en twee vriende, Kyle Masphere (18) en Godfrey Scheepers (20), vermoor is. Volgens die klagstaat het Phoenix en Masphere  glo dagga gerook voor die gebeure en haar met ’n tou van agter verwurg. Bure van die Therons en mense op sosiale webwerwe bespiegel dat hulle aan tik verslaaf is.

Volgens Fisher kan mens net bespiegel of Rosemary ook aan dwelms verslaaf was, maar sê die kinders van ouers wat aan dwelms verslaaf is, het gewoonlik baie probleme. “Dié soort kinders is die kwaadste wat daar is. Toe ek jonger was, het ek baie gedink ek wil my ma doodmaak, maar ek het nooit so ver gegaan nie.”

Luidens ’n navorsingsdokument van Smart, getiteld The Silent Victims of alkohol and drug abuse, het kinders met ouers wat aan dwelms verslaaf is, gewoonlik ’n lae selfbeeld, ly aan angs, hulle voel maklik verleë, sien probleme as iets sien wat buite hulle beheer is, kry depressie en sukkel om aan te pas.

Marelize Potgieter