draf oefen

Draf en oefen kan jou liggaam onder druk plaas as jy nie die regte eetplan volg nie. Die volgende kosse is goed vir drawwers omdat dit spiere help herstel en energie verbeter.

  • Salm

    Dis ryk aan omega-3-olies, wat die bloedvate van die hart meer elasties maak en die hart gesond en gelukkig hou terwyl jy draf. Dis ook goed vir die senuweestelsel.

  • Piesangs

    Eet ’n piesang voor jy gaan draf. Piesangs is propvol kalium en koolhidrate, wat energie verbeter.

  • Bessies

    Is jy pootuit nadat jy ver gedraf het? Bessies sal pyn en seer spiere na ’n lang drafsessie verminder. Bessies bevat baie vesel, vitamien C en kalium, wat die liggaam help herstel. Geniet dit in ’n vrugtesmoothie of oor jou ontbytkos.

  • Grondboontjiebotter

    Eet ’n stukkie roosterbrood met grondboontjiebotter voor jou oggenddraf vir noodsaaklike brandstof. Grondboontjiebotter is propvol koolhidrate en proteïen, wat maklik verteerbaar is om jou die nodige energie te gee.

  • Heelkoringpasta

    Pasta is nog ’n goeie bron van energie. Dis hoog in koolhidrate, en kan voor of na draf of oefening geneem word. Kies heelkoringpasta, wat meer vesel bevat en jou meer energie gee.

  • Maer beesvleis

    Dis hoog in proteïen en yster, wat noodsaaklik is vir die herstel van spiere. As jy ’n vegetariër is, is goeie bronne van proteïen bone, erte, sekere graankosse en groen groente soos spinasie.

  • Broccoli

    Groente soos broccoli is goed vir jou algemene gesondheid en prestasie. Dis ryk aan vitamien C, kalium, vesel en fitochemikalieë.

  • Laevetjogurt

    Hoewel draf goed is vir beendigtheid, het jy ook kalsium nodig om jou bene te versterk. Jogurt bevat baie kalsium, asook proteïen, wat spiergroei en –herstel ná draf aanhelp.

  • Afgeroomde melk

    Dit bevat nie net baie kalsium nie, maar ’n glas afgeroomde melk sal seer spiere ook gou laat beter voel. Afgeroomde melk se snelwerkende koolhidrate en proteïene sal spierskeurtjies help herstel wat jy tydens jou drafsessie opgedoen het.

  • Groentee

    Groentee bevat baie antioksidante en verbeter die spiere se vermoë om vet te verbrand terwyl jy oefen of draf. Dit verminder ook die skade aan spierweefsel en verhoog jou metabolisme sodat jy die meeste uit jou drafsessie kan put.

Bron: Fitness Adviser

Vir nog inligting, klik hier.