Vroue wat draf of aërobiese klasse bywoon, sal heel moontlik bekkenpyn systap. Die pyn is glo iets wat een uit vyf swanger vroue ervaar.

Volgens die studiestuk in die Britse Tydskrif vir Sportmedisyne sal oefening tussen drie en vyf keer per week voor jy probeer om ’n baba te hê, bekkenpyn tydens swangerskap met 14 persent verlaag.

Die pyn, ook bekend as bekkengordelpyn, kom voor wanneer die liggaam plek maak vir die groeiende baba deur die bekkengewrigte onegalig te laat beweeg en die wyse waarop die spiere die buikgewrigte steun, te verander.

Navorsers, insluitend ’n groep van die Noorse Instituut vir Openbare Gesondheid, het data van vroue bestudeer wat aan die Noorse Moeder-en-Kind-Kohortstudie deelgeneem het.

Bekkengordelpyn tydens swangerskap is by 4 069 vroue aangemeld. Altesaam 12,5 persent van hulle het geen oefeninge gedoen voor hulle swanger geraak het nie.

Vroue wat drie tot vyf keer per week geoefen het voor hulle swanger geraak het, het ’n 14 persent laer risiko geloop om bekkengordelpyn tydens swangerskap te ontwikkel, vergeleke by dié wat nie geoefen het nie.

“Deelname aan hoë-impak oefeninge soos draf, balspel, netbal en hoë-impak aërobiese oefeninge word verbind met ’n laer risiko op bekkengordelpyn,” het die navorsers gesê. “Vroue wat gereeld oefen voor hul eerste swangerskap en wat hoë-impak oefeninge doen, kan moontlik ’n verlaagde risiko hê op bekkengordelpyn gedurende swangerskap.”

In die 17de week van hul swangerskap is die deelnemers gevra om te beskryf watter soort oefeninge hulle gedoen het en hoe dikwels hulle geoefen het. In hul 30ste week is hulle toe uitgevra oor die pynvlakke en hoe dikwels dit voorgekom het.

© Cover Media