Maar al lyk dié broeke dalk skadeloos, maan dokters dit kan ernstige gesondheidsgevare inhou.

Die waarskuwing kom nadat ’n 35-jarige vrou vier uur lank van die pyn gewriemel het voor paramedici haar uit haar beklemmende broek losgesny het.

Dit blyk toe die vrou ly aan kompartementsindroom, wat beteken die jeans het haar senuwees en spiere beskadig. Dit het haar enkels so verswak dat sy nie kon staan nie en haar bene so laat swel, sy kon nie die broek uittrek nie. Weens die skade was sy vier dae in die hospitaal aan ’n binneaarse drup gekoppel.

Die voorval het gebeur terwyl die vrou ’n familielid help trek het. Die feit dat sy die dag baie gehurk het met die stywe broek aan, het vermoedelik die probleem veroorsaak.

Dis so ’n unieke geval dat die Journal of Neurology, Neurosurgery and Psychiatry daaroor berig het.

“Die huidige geval verteenwoordig ’n nuwe neurologiese komplikasie van stywe jeans dra,” sê navorsers aan die Royal Adelaide-hospitaal.

Maar moenie bekommerd wees nie; jy hoef darem nie nooit weer stywe jeans aan te trek nie. Wees net slim daaroor: kies eerstens ’n broek wat gemaklik pas, verkieslik in ’n sagte en rekbare denim.

Vermy dit by die werk wanneer jy nie sommer gou ander klere kan gaan aantrek nie. Hou ook verby as jy waarskynlik baie liggaamlike aktiwiteit sal doen wat vereis dat jy soepel moet wees.

Hou die broeke vir spesiale geleenthede en probeer dit nie langer as ’n paar uur op ’n keer dra nie. As jy lamheid in jou voete en bene ervaar wanneer jy noupypjeans dra, probeer so vinnig moontlik ander klere aantrek en besoek ’n dokter as dit nie opklaar nie.

© Cover Media