Die vakansie is amper hier... maar van ons moet nog ’n week of wat vasbyt en werk, selfs al voel dit ons kan net nie meer nie. Ons het by Taryn Coghlan, ’n Johannesburgse voedingsdeskundige, gaan kers opsteek oor wat ons kan eet en doen om woema te kry tot die vakansie aanbreek. Sy vertel ook hoe ons vol energie kan terugkeer in die nuwe jaar.

'Dié tyd van die jaar is almal oormoeg en uitgeput.'

“Dié tyd van die jaar is almal oormoeg en uitgeput en ons is geneig om skiet te gee as dit kom by ons dieet en leefstyl, want ons voel dat ons dit ná ’n lang jaar van harde werk verdien. Maar om jou te vergryp aan koek, sjokolade, drank en allerhande lekkernye gaan jou allermins laat beter voel. Inteendeel, voor jy jou oë kan uitvee, is Januarie hier en dan voel jy moeër, oorgewig en terneergedruk en glad nie uitgerus en gereed vir ’n nuwe jaar aan te pak nie.

Hier is ’n paar wenke wat jou wonderlik sal laat voel en sommer baie ekstra energies al gee:

  1. STABILISEER JOU BLOEDSUIKER: Eet liewer kleiner (so groot soos ’n slaaibordjie) maaltye elke twee tot drie uur. Sorg dat ten minste 80 persent van die maaltye uit slaai en groente bestaan, 12 persent proteïen, 6 persent goeie vette (neute, sade, avokado, olyfolie, neute, sade, olyfolie, hennepolie (hemp), lynsaadolie (flax)) en die res kan stysel wees. Aangesien dit dié tyd van die jaar is, kan jy dit iets maak soos aartappelskyfies of ’n aartappel.
  2. EET DIE REËNBOOG: Hoe meer kleur daar op jou bord is, hoe beter. Eet veral kos wat ryk is aan antioksidante, dis gewoonlik groen, rooi, pers en geel. Wees versigtig vir wit, soos brood, pasta, rys en aartappels; dis kos wat jou vol maak, maar daar is min ander waarde daarin.
  3. OEFEN. Dit beteken nie dat jy volstoom in die gim moet begin oefen nie. Die weer is nou so lekker, gaan stap; ná net vyf minute sal jy wonderlik voel. En probeer ’n bietjie son kry; dit sal jou onmiddellik laat beter voel. Vir die nuwe jaar moet jy dalk dink aan ’n doelwit en daarna strewe, soos om aan staptogte of ’n marathon deel te neem.
  4. ALKOHOL EN KAFEÏEN: As jy te veel stimulante wil drink, eet jy nie genoeg en gesond nie. Moet nooit kafeïen en alkohol op ’n leë maag drink nie. Drink ook ’n glas water ná elke drankie. Alkohol dreineer jou energie en laat jou bloedsuikervlakke daal, wat glad nie goed is nie.
  5. VERMEERDER JOU VITAMIENE EN MINERALE: Kry drie weke lank elke week ’n vitamien B-inspuiting. Dit sal jou sommer baie beter laat voel. Dan moet jy sorg dat jy vitamiene van goeie gehalte inkry. Baie van die produkte wat beskikbaar is, is sommer geldmors. Dis belangrik dat jy ’n  goeie multivitamien drink, ’n magnesium-aanvuller, omega-olies, vitamien D en ’n probiotika (wat in die koelkas gehou word).
  6. MEEGEVOEL EN VRIENDSKAP: Doen iets goeds vir ander, soos om geskenke te vat vir ’n ouetehuis of kinderhuis en komberse en kos vir diereorganisasies, soos die DBV. En bring tyd deur met jou geliefdes en vriende en lag baie!
’n Paar resepte van Taryn vir meer energie: TARYN SE GROENMAMBA SLAAI

  • 1 avokado
  • 10 baba-spinasieblare, fyngekap
  • 2 selderystokkies
  • 5 grasuie, fyn gekap
  • 2 baba-koolblare, fyngekap
  • 15 snytjies fyngekapte komkommer
  • broccoli en groenboontjies, liggies gestoom of rou
  • 1 gerasperde murgpampoentjie of baba-skorsie
  • 1 groen appel, fyn gesny
  • ¼ wiel fetakaas, gekrummel
  • roket, koljander of bronkors
  • ½  blik gewaste cannellini-boontjies of lensies of iets soortgelyks
  • opsionele ekstras – ’n blikkie tuna of vis of hoender
  • olyf- en avokado-olie en die sap van ’n vars suurlemoen
  • ’n brandrissie, gekap
  • ’n groot soetrissie, gekap
Meng alles en geniet! GROEN SAP MET SKOP

  • 6 koolblare en ‘n bietjie ‘watercress’
  • 1 komkommer
  • 4 stokkies seldery en ’n stammetjie vinkel
  • 1 groen appel of ’n perske
  • ½ suurlemoen
  • 1 stukkie gemmer

Voeg alles saam in ’n versapper, verkoel en geniet!

KNOFFEL, ROOSMARYN EN BOONTJIE DOOPSOUS

  • 3 koppies gekookte wit bone
  • ¼ koppie ekstra suiwer olyfolie
  • 1 groot suurlemoen, versap (omtrent ¼ koppie)
  • 1 tot 2 knoffelhuisies, afgedop en fyn gekap
  • 1 eetlepel vars, gekapte, roosmaryn
  • 1 teelepel Herbamare of seesout
Bêre van die gekookte boontjiewater om te gebruik soos nodig Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker, behalwe vir die oortollige boontjiekookwater. Verwerk tot glad en voeg deurentyd van die boontjiekookwater by, soos nodig. Verkoel en sit voor. MEDITERREENSE PAKKIES MET ROOISOETRISSIES EN HUMMUS

Genoeg vir 4

Gebruik spinasie, kool of blaarslaai om pakkies te maak.

Gebruik groente soos spinasie, murgpampoentjies, swart olywe, avokado en rooisoetrissie-hummus as vulsels.

  • 2 groot kool, spinasie of blaarslaai blare
  • 2 koppies fyn kool wat goed gewas is
  • ½ van die rooisoetrissie-hummus-resep (sien hieronder)
  • 1 ryp avokado, ontpit en gesny
  • ½ koppie murgpampoentjies, in lang, dun repies gesny
  • ¼ koppie ontpitte swart olywe, fyn gekap

Sny die blare weg van die dik stammetjie in die middel sodat jy vier groot stukke het. Skep eers die spinasieblare bo-op, dan die rooisoetrissie-hummus onderaan die blaar. Skep avokado, murgpampoentjies en swart olywe bo-op. Maak ’n pakkie met die blaar en sit voor. Dit sal ’n dag of wat in die koelkas hou. ROOISOETRISSIE-HUMMUS

Lewer 2 koppies

Die hummus word gemaak van tahini en nie kekerertjies nie, soos in die tradisionele resepte. Vir ’n skerper smaak, kan jy komyn bysit en rooi soetrissie (bell peppers) gebruik. Sesame poeier sal ook van die ekstra vloeistof absorbeer.

  • ½ koppie sesamsaad, verwerk tot poeier
  • 2 teelepels gekapte knoffel
  • 1 teelepel seesout
  • 2 koppies rooi soetrissie, ontpit en fyn gekap
  • ? koppie tahini
  • ¼ koppie suurlemoen sap
  • ½ teelepel fyn komyn

Sit die sesamsaad, knoffel en sout in ’n voedselverwerker en meng tot klein stukkies vorm. Voeg die res van die bestanddele by en meng tot glad.

Vir nog inligting, bel Taryn Coghlan by die Transformation Clinic by 082-336-2190.

- Suzanne Venter