April is gesondheidbewustheidsmaand en dus die ideale tyd om op te hou rook.

Al is die gewoonte aan die afneem, rook ongeveer 7 miljoen mense in Suid-Afrika 18 jaar en ouer steeds.

’n Klomp mense het agtergekom fisieke oefening kan hulle daardie suigstokkie laat groet.

Met hulpmiddels soos e-sigarette en nikotienkougom bly ’n mens afhanklik van nikotien, maar oefening, aan die ander kant, help ’n gesonde verstand en liggaam skep.

Hier is vyf maniere om waarop jy aktief kan raak en dalk selfs jou rookgewoonte kan stopsit:

1. Oefening laat die liggaam endorfiene afskei

Wanneer die brein en senustelsel endorfiene afskei, voel jy gelukkig. Dié hormone demp ook jou rooklus. “Ons sien dit die hele tyd: Wanneer mense begin gim, laat vaar hulle hul slegte gewoontes,” sê Ivana Buchanan, groepsoefeningspesialis by Zone Fitness.

’n Deeglike oefensessie lei tot ’n groot toename in die afskeiding van endorfiene, en dit onderdruk weer die rooklus.

2. Oefening gee jou ook ’n langtermyndoelwit om na te streef

Om doelgerig te wees kan jou help deurdruk as jy wil ophou rook. As jy lank daaraan werk om jou doelwit te bereik, sal jy gefokus genoeg bly om nie weer met die slegte gewoonte te begin nie.

Jy sal ook meer gemotiveerd wees om vas te byt as jy positiewe liggaamsveranderinge sien.

Lees ook: Verloor só gewig sonder om enige kos uit te sny

3. Oefening verbeter jou geestelike welstand

“Nikotienverslawing is fisiek en geestelik,” sê Ivana. Oefening kan jou ’n gesonde ingesteldheid help skep; ’n mens gebruik jou energie vir wat vir jou belangrik is.

Hoe meer jou oefen, hoe minder sal jy smag na die bevrediging van ’n sigaret, sê sy.

4. Oefening help jou ’n steungroep vind

Die gim is eintlik ’n gemeenskap, sê Ivana. “Kry ’n oefenmaat om jou te help gemotiveer bly.”

So kan jy kan makliker jou fiksheidsdoelwitte bereik en ook sonder rook klaarkom. Iemand aan jou sy sal simpatie hê met jou stryd, en dit sal jou aanspoor om te oefen as jy weet iemand gaan teleurgesteld wees as jy tou opgooi.

5. Oefening keer dat jy verveeld raak

Verveeldheid is een van die groot redes waarom mense weer nikotienstokkies nader trek. Konsentreer liewer daarop om aktief te bly.

As jy verveeld is by die werk of jy het ’n uur vry, gaan oefen in die gim of konsentreer op maklike oefeninge, sommer by jou lessenaar.

Jy sal verbaas wees wat jy kan vermag deur jou bene ’n paar keer te lig terwyl jy agter jou rekenaar sit. Weerstaan die drang om ’n sigaret op te steek.

Loop in die kantoor of buite rond as jy ’n breuk nodig het. Staan ’n uur van jou dag af om te oefen; jy sal boonop produktiewer wees by die werk.

Ander stories op Huisgenoot.com:

Testikulêre kanker: Wat elke man moet weet

Hoe weet jy of jou kind dalk ’n bril moet dra?

Vrou kap weens rare kwaal om as ’n deur klap

Dis hoe lank kenners meen jy moet verslank om die vetjies vir goed weg te hou