Ongelukkig nie. Boonop lyk dit of dit waarskynlik die slegste ding is wat jy met dié knolgroente kan doen.

Lees ook: Só kan jy jou bakkie ontbytkos nog gesonder maak

Volgens die Britse agentskap vir kosstandaarde word die stysel in aartappel in suiker omgeskakal wanneer dit in die yskas gesit word – wat natuurlik beteken die aartappels sal soeter smaak. Maar dit sal ook taaier wees om te kou en dit verkleur.

Maar dit is nog nie die ergste nie. Wanneer jy dit op die stoof of in die oond of mikrogolfoond gaarmaak, kan die stysel wat in suiker omgekakel is ’n potensieel gevaarlike chemiese reaksie veroorsaak.

“Wanneer dit gebak of gebraai word, kombineer die suikers met die aminosuur asparagien en produseer die chemikalie akrielamied,” verduidelik die agentskap.

Lees ook: Hier is hoe grondboontjiebotter jou kan maer maak

Akrielamied is ’n genotoksiese karsinogeen wat al aan ’n verhoogde risiko vir kanker verbind is, berig Metro. Maar nog navorsing moet gedoen word om vas te stel wat gebeur oor die lange duur met die liggaam nadat groot hoeveelhede akrielamied ingeneem is.

Daar steek waarheid in die beweringe dat die yskas jou aartappel gaan bederf, sê Neels Marais, die voorsitter van Aartappelnetwerk Suid-Afrika. “Die stysel word omgeskakel in suiker. Dit veroorsaak dat jou aartappel glaserig raak.”

Hy sê dit is nie bekend of dié verkoelde aartappels wel tot kanker kan lei nie, maar dat dit beslis jou styselhappie minder aangenaam gaan maak.

“Dit is nie noodwendig gevaarlik nie, maar jou aartappel sal hard raak en nie lekker smaak nie.”

Waar moet jy dan jou aartappels bêre? Die beste bêreplek daarvoor is in ’n papiersak op ’n koel, donker plek, weg van enige sonlig of kombuisgereedskap wat kan hitte afgee.

“Hou jou aartappels liefs in die bruin papiersak waarin jy hulle gekoop het. Sorg ook dat die sak stewig toe is en die aartappels teen kamertemperatuur geberg word,” voeg Neels by.

Nog ’n wenk: Moenie aartappels was voor jy dit wegsit nie. Die vog kan hulle vinniger laat sleg raak.

– Kirstin Buick en Mieke Vlok

Bronne: food.gov.uk, potatogoodness.com, metro.co.uk