Die afgelope tyd het die emosies nogal hoog geloop in die vermaakbedryf: verlede week was Perrie Edwards tydens ’n Little Mix-konsert tranerig (ons blameer jou, Zayn Malik) en Kelly Clarkson het in trane uitgebars toe sy die nuus oor haar swangerskap op die verhoog uitlap.

Dit kan ietwat vernederend wees om in die openbaar te huil, maar volgens wetenskaplikes sal ’n mens ná ’n tranedal baie beter voel.

Die navorser Asmir Gracanin van die Tilburg-universiteit in Nederland glo die goedvoelhormoon oksitosien word moontlik vrygestel wanneer ’n mens huil, en dit is wat jou mettertyd laat beter voel. Volgens ’n ander teorie probeer mense ná ’n sniksessie selfs harder om opgeruimd te wees.

Om hul teorie te ondersoek is 60 mans en vroue gevra om na twee hartseer rolprente te kyk terwyl hul reaksies verfilm is. Hulle is voor en ná elke rolprent gevra hoe hulle voel.

Hachi: A Dog’s Tale is beskou as ’n ware tranetrekker; 60 persent van die deelnemers was aangedaan oor die band tussen ’n professor en ’n weggooihond. Die komediedrama Life is Beautiful het 45 persent van die deelnemers laat huil.

Dit lyk of die manne steeds probeer macho optree, want volgens die video het meer vroue gehuil. Toe hulle agterna gevra is hoe hulle voel, het die deelnemers wat nie gehuil het nie gesê hulle voel nog net soos tevore.

Dié wat ’n traan gestort het, het aanvanklik nog hartseerder gevoel, maar 20 minute ná die rolprent was hulle weer in ’n goeie luim. ’n Uur later het die tjankbalies selfs nog beter gevoel.

As oksitosien inderdaad nie die sneller is nie, kan dit ’n slim truuk van die brein wees.

Volgens die verslag in die tydskrif van Motivering en Emosie kon die vrywilligers harder probeer het om vrolik te word of hulle het net vroliker gevoel omdat hul bui versleg en toe weer verbeter het.

Die wetenskaplikes se slotsom? “’n Goeie huilsessie kan baie doen om jou beter te laat voel.”

© Cover Media