Pleks van heeltyd dink hoe baie jy Maandae verpes, kan jy jou gesindheid met ’n bietjie Maandag-motivering verander.

Nuwe week, nuwe begin

Dit is glad nie ongewoon om mismoedig te voel en die einde van nog ’n heerlike naweek te betreur wanneer jy op ’n Maandagoggend werk toe ry nie. Jou gedagtes kan maklik met jou op loop gaan, dus moet jy ’n poging aanwend om hulle te beheer.

Wees bly oor die nuwe week wat pas begin het, eerder as om treurig te voel omdat die naweek verby is. Optimisme bring jou ver en wanneer is nou ’n beter tyd om dit in te span as by die begin van ’n vars, nuwe week? Maak in jou gedagtes ’n lysie van wat jy graag in die volgende sewe dae wil klaarmaak, van die gimnasium besoek tot om op die uitkyk te wees vir ’n volmaakte werk.

Dit sal jou gereedmaak vir ’n doelgerigte en hopelik produktiewe week vorentoe.

Maak tyd vir jouself

As jy mediteer of joga beoefen, sal jy weet wat die voordele is as jy ’n bietjie tyd net vir jouself inruim.

Indien nie, hoekom nie vandeesweek ’n bietjie ek-tyd op die proef stel nie? Dit maak nie saak of jy in ’n mediteerposisie sit, strelende musiek luister, 10 minute in die bad lê en oor die lewe mymer nie, dit kan alles ’n kalmerende uitwerking op jou liggaam en siel hê.

Noem alles op waaroor jy dankbaar is en jy sal verbaas wees oor hoe energiek en tevrede jy agterna voel.

Kry ’n goeie nagrus

’n Goeie nagrus Sondag- en Maandagnag sal ’n produktiewe begin vir jou week verseker. Moenie Sondagaand te laat eet en alkohol inneem nie, want dit kan jou slaapgehalte beïnvloed.

Doen ook moeite om die regte atmosfeer te skep. Kerse, kussingsproei en sagte musiek is almal bederfies wat jou kan help ontspan.

Beraam planne

Kontak vandeesweek ’n ou vriend/in of familielid wat jy eeue laas gesien het en beplan ’n bietjie pret. Die dae sal eenvoudig verbyvlieg as jy weet jy het iets om na uit te sien.

© Cover Media