Maar in jou agterkop weet jy jy gaan waarskynlik verskeie kere wakker word tussen slapenstyd en wanneer jou wekker lui.

Deur die nag sal jy heel moontlik rondrol terwyl die minute verby sleep.

Hoekom gebeur dit? Hier is moontlike oorsake en oplossings.

1.  Dis te warm

Met die ysige winterweerstoestande klink jou verwarmer, bed, ’n stomende koppie koffie en lae komberse soos die volmaakte kombinasie. Maar te veel hitte sal jou slaappatroon beïnvloed. 

Jou liggaamstemperatuur neem af terwyl jy slaap, maar as jy met te veel lae warm goed bedek is, moet jou liggaam ekstra hard werk om af te koel. Dit kan ’n verkwikkende nagrus belemmer. 

Wat jy kan doen: Ontspan voor slapenstyd in die bad, sê Marc Leavey, ’n spesialis by die Mercy Mediese Sentrum in Baltimore, Amerika. “’n Warm bad verhoog jou liggaamstemperatuur. Dit neem af wanneer jy uitklim, iets wat jou brein met slaap verbind.”

2. Sosialemedia-slaaf = onderbreekte droom

Behels jou aandroetine om voor slaaptyd op Instagram, Facebook of Twitter te boer? Wel, dit beroof jou van ’n goeie nagrus.

“As jy jou oë saans aan lig blootstel, verhoed dit die vervaardiging van melatonien, die slaaphormoon,” sê Richard L. Hansler van die John Carroll-universiteit in Ohio, Amerika.

Wat jy kan doen: As jy regtig nie voor bedtyd sonder daai laaste loertjie op die internet kan klaarkom nie, stel die lig op die skerm dowwer sodat dit sagter is op jou oë. 

’n Kykie na sosialemedia voor slaaptyd beroof jou van ’n goeie nagrus Foto: Cover Media

3. Jy moet altyd toilet toe gaan

Dis seker een van die irriterendste redes om saans te moet opstaan. En dis nog erger as dit gebeur enkele minute voor jou wekker sou piep! 

As jy meer as twee keer moet opstaan om toilet toe te gaan, selfs al probeer jy voor slaaptyd minder vloeistof inneem, het jy dalk ’n tekort aan sout, wat water help terughou.

Wat jy kan doen: Drink ’n klein glas water met ’n knippie sout ’n halfuur voor jy gaan slaap, is Jonathan Steele, uitvoerende direkteur van WaterCures.org, se raad.

“Onverwerkte sout help die water om al die selle te bereik.”

4. Jy’t te diep in die bottel gekyk

Jip, ’n paar drankies te veel en jy glo jy gaan vas aan die slaap wees sodra jou kop die kussing raak.

Navorsing het egter getoon dronkenskap ontwrig jou slaappatroon.

“Oor die eerste paar uur verwerk jou liggaam die alkohol, en die alkohol sorg vir ’n vorm van slaap wat die gesonde vinnige-oogbeweging-slaapfase, die rustigste deel van die slaapproses, verhoed,” sê Marc.

Wat jy kan doen: As jy ’n paar drankies by die nabygeleë kroeg geniet, maak seker jy gee jou liggaam genoeg tyd om die alkohol af te breek voor jy gaan slaap.

As jy te diep in die bottel kyk kan dit jou kanse op ’n goeie nagrus belemmer Foto: Cover Media

5. Te veel stres, te min rus

Jy bekommer jou oor die knap spertyd môre. Of oor waar jy die tyd gaan kry om die kinders Saterdagoggend na hul sportwedstryde te neem. 

Dis moeilik om tot rus te kom as jy oor soveel dinge tob. Kenners waarsku dit kan veroorsaak dat jy gereeld wakker skrik.

Wat jy kan doen: Doen stappe soos meditasie om jou spanning te verlig. Dit kan doeltreffend wees in die stryd teen slaapsteurings, sê Lekeisha Sumner, ’n kliniese sielkundige aan die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles.


Lekeisha sê psigoterapie, soos kognitiewe gedragsterapie, kan ook die brein help om stresvolle gedagtes te beheer. 


BRONNE: Prevention,Tonic,Byrdie.com