In navorsing aan Harvard-universiteit is bevind ’n bietjie lakenpret 21 keer per maand kan die prostaat help om van gifstowwe ontslae te raak, wat die semenvervaardigende klier gesond hou en mans kan help om kanker te vermy. 

Die data van 32 000 mans is versamel en daar is bevind om gereeld te ejakuleer, verminder die gevaar van prostaatkanker met tot ’n derde. 

Prostaatkanker is die algemeenste soort kanker onder mans in Brittanje, met meer as 40 000 nuwe gevalle wat elke jaar gediagnoseer word. Omdat dit stadig ontwikkel, besef talle mans nie hulle het dit nie tot die siekte al gevorderd is nie.

Die studie is in die vaktydskrif European Urology gepubliseer, waarin navorsers oor hul bevindings gepraat het. 

“Ons bevindings bied bykomende bewyse van die voordelige rol wat gereelde ejakulasie regdeur volwassenheid speel in die etiologie van prostaatkanker, veral vir lae-risiko siektes,” skryf hulle.

“Ons het bevind prostaatkanker kom minder voor onder mans wat ’n hoër ejakulasie-frekwensie pleks van ’n laer een as volwassenes aandui.”

Dis onduidelik hoekom juis 21 orgasmes per maand, oftewel 252 per jaar, so voordelig is vir mans, maar navorsers sê ’n aktiewe sekslewe is dalk ’n goeie aanduiding van goeie gesondheid, wat die kankerrisiko verminder. Dit is dus belangrik om ’n gebalanseerde dieet te volg en te sorg dat jy daagliks genoeg oefening kry.