Die meeste van ons het ons gunstelinge waaraan ons gedurig weglê – en bloubessies behoort heel bo aan daardie lysie te wees. Dis ’n klein vruggie propvol heilsaamheid en ons verduidelik hier hoekom jy dit gereeld by jou dieet moet insluit.

Antioksidante

Bloubessies bevat meer antioksidante as aarbeie, appels, bosbessies en braambessies. Antioksidante is belangrik vir algehele gesondheid – dit reinig jou bloedstroom van vrye radikale en bied beskerming teen sonskade. Daar is ook bevind dat dit siektes soos kanker, Alzheimer se siekte en hartsiektes kan help voorkom.

Inflammasie

Bloubessies kan inflammasie help beveg, wat goeie nuus is vir mense wat sukkel met artritis of velprobleme. Die vrug help met die toename van hitte-skok-proteïene, wat verminder soos mense ouer word en tot inflammasie lei. Dit bevat ook baie kwersetien, wat kan help om allergieë te beheer, en salisielsuur, wat die bloed verdun en pyn help verminder.

Slimmer met bessies

Die flavonoïed in die bessies kan die geheue en hoe vinnig jou brein werk verbeter deur liggaamselle, waaronder die senuselle wat gedagtes en gevoelens oordra, te beskerm. As jy jou flavonoïedvlakke hoog hou, sal dit jou vlymskerp en jou koördinasie in topvorm hou.

Skoonheid

Dis dalk nie die belangrikste aspek nie, maar beslis een waarin baie mense sal belangstel – bloubessies kan jou vel se voorkoms verbeter. Dit bevat vitamien A en C, wat met kollageengesondheid verbind word. ’n Dieet ryk aan bloubessies sal dus sorg vir ’n gladder, egaliger vel. Bloubessies is ook ryk aan proantosianidien, wat help ontslae raak van vrye radikale, wat lei tot voortydige veroudering.

© Cover Media